MOSSELBAAI NUUS - “Honger lande kan nie outnonoom wees nie. ‘n Honger land, is uitgelewer aan iemand anders, ” het dr Theo de Jager van SAAI sy bydrae tot die gesprek oot streeksoutonomie vir die Suid-Kaap ingelui.
De Jager was deel van ‘n gespreksgeleentheid verlede Donderdag, 28 April wat tydens AfriForum se Veg- en Bouweek aangebied is. De Jager is die voorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) en president van die Wêreldboere-organisasie
De Jager het vanuit die hoek van ‘n landbouer gesels en gesê dat daar nie sprake van selfstandigheid of outonomie kan wees as daar nie genoeg kos is nie. Volgens hom, lê produksie en beskikbaarheid van voedsel aan die wortel van outonomie.
Lesse geleer
“Die een ding wat Covid-19 ons baie vinnig kom leer het, is dat dit nie saakmaak van watter stand jy is nie, maar niemand kan sonder kos klaarkom nie.”
Wat voedselsekerheid betref, het De Jager verduidelik dat die term eintlik met voedselsoewereiniteit vervang behoort te word. Hiervolgens, kan elke land bepaal hoe, wanneer en watter sort kos hy produseer. De Jager sê dat lande nie meer voorgeskryf wil word nie en dat hierdie nuwe term dus wêreldwyd inslag onder landbouers vind.
Nog ‘n belangrike uitkoms uit Covid-19 het De Jager aangedui, is die noodsaaklikheid daarvan om genoeg te produseer in dit waarin jou land ‘n kompeterende voordeel het.
“Dit stel jou in staat om uit jou koskas te kan ruil en dit is belangrik, want in swaar tye, maak meeste lande hulle koskaste toe. Ons het dit veral in die eerste maande van Covid-19 gesien, toe 18 lande onmiddellik beperkings op hulle uitvoere geplaas het.”
Kompeterend
De Jager het na twee voorbeelde in die Suid-Afrikaanse lanboubedryf verwys, waar produksie intens geraak is deur die verlies aan die kompeterende verbouing daarvan.
“Dit gaan nie daaroor of jy ‘n produk kan produseer, die ideale grond of klimaat, selfs die kundigheid, waardeketting en mark het nie. Jy moet meer geld uit jou produk as die kompetisie kan maak.”
Hy het verduidelik dat, ten spyte daarvan dat Suid-Afrika in 2007, 43% van sy eie tee verskaf het, daar sedert 2012 nie meer ‘n enkele teesakkie in die land geproduseer is nie. Hierdie mark is oorgeneem deur Malawi, Kenia, Uganda, Burundi en Tanzanië.
Wat die grootste impak gehad het, aldus De Jager, is die koms van grondeise en die skerp toename in minimumlone. Van die grootste teeproduserende plase in Sud-Afrika het tot 15 000 werkers gehad.
“Grondeise plaas ‘n handrem op belegging. Boonop is die verbouing van tee arbeidsintensief. Dit kan slegs met die hand geoes word
Piesangs, het De Jager verduidelik, word ook baie meer koste-effektief in Mosambiek verbou. Slegs ‘n kleinstrook in Suid-Afrika word aan hierdie verbouding gewy.
“Met piesangs het jy ‘n hoë elektrisiteitsrekening, want jy pomp baie water. ‘n Groot watertoekenning is ook nodig, want ‘n piesangboom benodig 80l water per dag. Dit is arbeidsintensief.”
Vanweë die feit dat arbeid 46% goedkoper in Mosambiek is as plaaslik, elektrisiteit 22% minder kos en water vrylik beskikbaar is, boer meer en meer Suid-Afrikaanse boere oor die grens met piesangs. Winsgrense is dus veel hoër vir dieselfde produk, vebou deur dieselfde boer.
“Maputo het tans net meer as 7000 hektaar onder piesangs, byna gelyk met wat Suid-Afrika tans het, teen die 11 500 hektaar in die verlede.”
Voordeel
De Jager beskou hierdie nie as ‘n gevaarteken nie, aangesien dit werkskepping beteken.
“As ons nie daar produseer nie, kom daardie mense hierheen. En niks stop ‘n honger mens nie – geen heining, geen tralies, geen sekuriteit. Baie inwoners van ons buurlande vlug na Suid-Afrika, want hier, is kos.”
De Jager meen dat dit ‘n positiewe ding is om elders op die kontinent te belê om daar welvaart te skep, aangesien dit ook ‘n bydrae tot selfstandigheid lewer.
“Daar is tans 4000 boere van Suid-Afrika en Zimbabwe wat in 44 ander lande ook boer. Slegs 3% van hulle ontwortel uit Suid-Afrika. Ons beskou dit as ‘n noodsaaklikse en produktiewe diversifisering.”
De Jager het die Wes-Kaap se strewe na streeks- en gemeenskapsoutonomie bestempel as meer aktueel as in die res van Suid-Afrika. Hy het egter uitgewys, dat hoewel daar 13 miljoen hektaar boerderygrond in die provinsie is, die afwesigheid van mielieproduksie opmerklik is.
“Ons voer nie mielies uit na Europa nie, omdat hulle regulasies baie streng is in terme van waarmee landbougewasse behandel word, maar mielies is sentraal tot veeboerdery in Suid-Afrika.”
Speelveld ongelyk
De Jager het uitgestip dat die voedselsoewereiniteit waarna hy verwys het deur die mark dikteer word en dat handel dit dusk an ondermyn.
Ter aflsuiting, het De Jager gesê dat baie van die produkte wat in Suid-Afrika verbou word, nie suksesvol op die mark is nie, juis omdat die speelveld in produksie ongelyk is.
“Kos kan nie vloei van minder kompeterende na meer kompeterende market nie. Kompeterendheid word deur tegnologie bepaal. Om die perfekte vrug te kweek, is presisie boerdery nodig. Dit rus op tegnologie wat betref bemarking, logistiek en ook biologies.”
“As die vraag is – wat is die belangriskte element in die strewe na ‘n selfstandigheid, is die grootste belegging die opleiding van ons jongmense. Ons moet ‘n nuwe geslag boer en sakeman skep wat tegnologie op hulle vingerpunte het. Opleiding, maak mense kompeterend.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'