RUBRIEK - Polities is Suid-Afrika reeds 'n gebroke staat. Korrupsie, staatskaping, kaderontplooiing, 'n algehele gebrek aan wet en orde, 'n by-die-dag-groeiende waterkrisis selfs meer intens as beurtkrag met 'n dreigende cholera-epedemie as uiteindelike beloning, bloeddorstige en wrede plaasmoorde, die ineenstorting van staatsentiteite én infrastruktuur, is stadig maar seker besig om die land dood te wurg.
Ons is nog nie heeltemal by die punt van 'n mislukte staat nie, maar die gevaarligte begin al hoe helderder skyn.
Ons kort net daardie laaste stootjie om oor die afgrond te tuimel. Dis ongelukkig die feite. Feite waarvan ons nie kan weghardloop nie.
Vergelykenderwys is die Wes-Kaap ietwat beter daaraan toe as die ander agt provinsies, wat deel uitmaak van die groter Suid-Afrika. Plaaslike munisipaliteite soos op Mosselbaai, George en distriksmunisipaliteite soos Saldanhabaai en die Overberg is 'n duidelike bewys daarvan dat dinge kan werk as die aandag op die regte maniere toegepas word.
Behalwe vir die reeds vele genoemde remskoene waaraan Suid-Afrikaners op 'n daaglikse basis aan onderworpe is, is ons besig om ons eie gat te grawe met die strooi van rommel en 'n algehele traak-my-nie-agtigheid oor 'n vuil omgewing. 'n Bitter diep gat waar siekte en pes ons sal inhaal soos dinge met water baie skielik kan verkeerd begin loop. Dis asof selftrots vir 'n skoon en netjiese omgewing soos mis voor die son verdwyn het.
'n Dag minder as drie weke voor alle Suid-Afrikaners stembus toe is om die Apartheid-ideologie finaal nek om te draai, het alle hel in Rwanda in die noordooste van Afrika uitgebreek toe die Hutu's en Tutsi's aanmekaar gespring het met tot panga-swaaiende kinders wat deelgeneem het aan dié bloeddorstige moord-orgie.
'n Volkslagting was die uiteinde daarvan en binne ses maande is sowat 'n miljoen mense in dié onsinnige oorlog dood met die Tutsi's, wat aan die kortste ent getrek het. Tot die Batwa-pigmieë se algehele bevolkingsgroep is in die kruisvuur tussen die Hutu's en Tutsi's met tot 'n derde uitgewis.
Gorilla-roetes
Dit was in 1994. 29 Jaar later kan duidelike paralelle getrek word tussen Suid-Afrika en Rwanda, wat hoofsaaklik op toerisme staatmaak om sy ekonomie lewendig te hou. Met sy vyf vulkane, 23 mere en die gesogte gorilla-roetes, is die oorlogsjuk uiteindelik afgeskud en 'n modelstaat is ontwikkel.
In 2018 was Kigali, hoofstad van Rwanda, beskou as die skoonste stad nie net in Afrika nie, maar die wêreld. Vergelyk dit met enige van die metro's in Suid-Afrika met die uitsondering van miskien Kaapstad waar die gebrek aan dienslewering aan die orde van die dag is.
En dis asof die inwoners van Suid-Afrika dit as die "nuwe" normaal aanvaar. Rommel word by voertuie uitgeboender. By sportbyeenkomste word parkeerarea's in rommelhope omskep soos papiere, plastiese drank-omhulsels en sakke en gebreekte bottels net so gelos word terwyl vullishouers binne loopafstand is. Wat verg dit regtig van 'n mens om rommel weg te gooi of het entitlement mense blind begin maak vir jou eie foute?
Jy sal geken word aan dit wat jy aan jou kinders nalaat. In dié stadium is die prentjie nie 'n mooi een nie en ongelukkig doen baie van die kinders deesdae mee aan die voorbeelde wat gestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’