MOSSELBAAI NUUS - Twee Mosselbaai-vroue het in Maart geskiedenis gemaak deur, sover bekend, die eerste twee Mosselbaaiers te word om van Luklah in Nepal na Everest Base Camp te stap.
Die afstand is volgens hulle maar 'n skrale 130km, maar was daar heelwat ander uitdagings.
Die stap wat op 3 Maart begin het, het nege dae tot by die bestemming geduur, wat twee klimatiseringsrusdae ingesluit het. Op die "rusdae" het hulle egter steeds geklim, en dan die aand teruggekeer na 'n laer hoogte om daar te slaap want daar is 'n sêding in die Himalayas: climb high, sleep low.
Dit is om stappers en klimmers te help beskerm teen die gevreesde hoogtesiekte, wat selfs tot die dood kan lei. Die terugkomslag het slegs drie dae geduur, met afstande van om en by 20km per dag.
Hulle het van 'n hoogte van 2 800m in Luklah (9 184vt), geklim tot by EBC by 5 364m (17598 vt). Een van die ontstellendstee oomblikke vir hulle was die dag wat 'n vrou wat gesterf het op 'n draagbaar verby hulle gedra is na Luklah.
Droom
Adelle Harmse en Alta Landman het verlede jaar aan hul droom begin werk om hierdie opwindende stap aan te pak. Volgens Alta het dinge baie vinnig in plek geval en toe hulle op Black Friday 2017 groot afslag kry by die maatskappy Himalayan Wonders, het hulle onmiddelik hul plekke bespreek.
Hulle het ook begin oefen. Aangesien Mosselbaai by seevlak is, was dit nogal 'n uitdaging om genoeg steil opdraendes te doen. Die fisiese gesnak na asem vanaf 4 500 meter was regtig erg, sê die twee vroue.
Hulle sê dat teen die tyd wat mens in die aand jou slaapsak uitgerol het, jy eers moes sit en asemskep. En om tande te borsel was 'n geweldige operasie, omdat jy nie jou asem kan ophou nie, want daar is nie asem om op te hou nie! Boonop vries die water in die krane en in die koppie voor jou bed, dus moet jy water in 'n bottel warm hou in jou slaapsak sodat jy jou tande kan borsel. Dit alles het gesorg vir lagbuie wat gelei het tot erge asemnood, vertel Alta en Adelle.
Volgens die twee vroue was hul baie gelukkig en het hulle baie genade ontvang, sodat hulle glad nie enige simptome gehad het van hoogtesiekte nie. Alta sê wel dat sy een middag so poegaai was dat sy gaan lê en slaap het, maar verder het die twee gesond gebly. In hulle groep was vier Britse mans, 'n man van Kuwait en 'n Egiptiese meisie. Reeds op dag 2 het twee Amerikaners nie verder kans gesien vir die stap nie, en omgedraai.
Belewenis
Alles op die stap was 'n belewenis, sê die twee gesoute stappers. So byvoorbeeld is die lughawe van Luklah een van die 10 gevaarlikste lughawens in die wêreld, waar vliegtuie land en opstyg teen 'n steil helling, en waar die vliegtuig onmiddellik na regs draai wanneer die wiele grond raak. So 'n soort van 'n rollercoaster-rit sommer in die vlug ingebou.
Volgens Alta was dit 'n geweldige emosionele ondervinding om die magtige Everest die eerste keer te aanskou. Die asemrowende pieke, baie van hulle hoër as 6 000 meter en dus in die sogenaamde death zone, maak dat die Kaapse berge nou baie klein lyk, sê Adelle. Sy voeg by dat hulle egter besef dat die plaaslike staproetes steeds geweldig uitdagend is, ook omdat dit dikwels nie so goed gemerk is nie, en omdat dit soms baie ruig en bebos is.
Die twee vroue is enige tyd bereid om vrae te beantwoord of inligting te verskaf oor hul avontuur van 'n leeftyd. Kontak Alta (082 7756 320 of altalandman32@gmail.com) of Adelle (082 974 6706).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'