Dit is dan ook aan die vreeslose optrede van 18 lede van die plaaslike NSRI, dat 12 Mosselbaaise bemanningslede van die plaaslike vistreiler, Emmanuelle, Sondagoggend, 26 Junie van ‘n moontlike waterdood hier in die baai by De Bakke-strand gered is.
Met die NSRI-lede se aankoms by De Bakke-strand waar die Emmanuelle, sowat 40 meter vanaf die land in die rowwe see gesien kon word, is daar besluit om vier van die NSRI-swemmers vanaf die rotse na die boot te stuur in 'n poging om die bemanning met 'n tou terug land toe te begelei.
Judd Smook is eerste die water in op sy hulp te gaan aanbied. "Dit was donker en die water koud. Daar is baie adrenalien betrokke. Ek was skrikkerig want ek kon nie ver sien nie," vertel Judd. Nog drie van die NSRI-swemmers, JC Roos, Danie Troskie en Ian Hamilton het Judd hierna die water in gevolg.
"Vir 'n oomblik twyfel jy, maar sodra jy jou voete in die water sit en die atmosfeer aanvoel, maak net die redding saak," vertel Danie.
Die swemmers vertel ook dat "toe ons aan boord van die treiler by die bemanning kom, was hulle paniekerig".
Die gety was besig om in te kom en die kanse al hoe groter dat die Emmanuelle op die rotse gaan loop. Dit het op die stadium ook gelyk of sy gaan kantel en n kode rooi is deur die NSRI uitgestuur.
Daar is toe besluit om twee van die NSRI se reddingsbote na die treiler te stuur - ‘n opblaas reddingsboot om tot langs die treiler te gaan sodat die bemanning oorboord tot in die reddingsboot kon spring en 'n groter boot vir bystand en waarop die bemanning oorgelaai kon word.
Adolf Piater het met die NSRI se opblaas reddingsboot tot teenaan die gevaar. Sy tydsberekening moes perfek wees om nie deur die 3 meter hoë golwe meegesleur te word nie en die bemanning van die boot af tot in die reddingsboot kon spring. "Hulle was huiwerig want dit is meer as 2 meter ver wat hulle moes spring."
Adolf het die verligte bemanningslede van die Emmanuelle na André Fraser, die skipper van die groot reddingsboot geneem.
Die reddingspan vertel dat daar tydens die reddingspoging, wat vier ure geduur het, verskeie noue ontkomings was soos onder andere toe "ons na die boot geswem het en die skroef ("propeller") van die boot maalbewegings in die water gemaak het. Ons moes kophou terwyl ons nader probeer swem," sê Danie.
Al 12 die bemanningslede van die Emmanuelle is veilig aan land gebring. Die NSRI-bemanningslede is na afloop van die hele seedrama met 'n ontbyt, wat deur hulle verligte families voorberei is, bederf.
Die beskadigde Emmanuelle is Maandag na die Mosselbaai Hawe getou waar ‘n ondersoek na die voorval gelas sal word.
Sewe van die NSRI-bemanningslede wat Sondag gehelp het om 12 bemanningslede van ‘n vistreiler tydens ‘n seedrama na veiligheid te bring. Adolf Piater, JC Roos, Judd Smook, Ian Hamilton, Dawie Zwiegelaar, André Fraser en Danie Troskie.