MOSSELBAAI NUUS - Na die afgelope vakansieseisoen het vrae rondom die toekoms van Souwesiastrand opnuut op sosiale media opgeduik.
In 2018, is daar tydens 'n vreedsame massa-optog op Vryheidsdag, 27 April, 'n petisie oorhandig om beswaar te maak teen die voorgestelde ontwikkeling van onder meer 'n drie-ster gegradeerde woonwapark, dag-ontspanningsfasiliteite en behoorlike toegang tot die strande.
Die Mossel Bay Advertiser het destyds berig dat die optog gevolg het op 'n besluit deur die Mosselbaai munisipale raad om die Souwesiastrandgebied vir 'n tydperk van 30 jaar per tender te verhuur.
Dit sal gedoen word met dien verstande dat die suksesvolle tenderaar die gebied volgens tenderspesifikasies sal opgradeer en onderhou en vir 12 maande van die jaar vir besoekers sal oopstel.
Wat die strandgebied betref, bly dit die eiendom van die Mosselbaai-munisipaliteit. Voorgenome ontwikkeling van die strandgebied volg op herhaalde versoeke deur die gemeenskap aan die Mosselbaai-munisipaliteit om opgradering te doen.
Sosiale media
Na aanleiding van 'n inskrywing op sosiale media deur ICOSA-raadslid, Dawid Kamfer vroeg in Januarie vanjaar, het in die kommentaar geblyk dat daar opnuut vrae heers oor die toekoms van Souwesia.
"Die vraag is, daar was 'n petisie oorhandig in 2018, dat sekere dinge gedoen moes word – 2020 nog niks het gebeur nie," het Kamfer geskryf.
Uit kommentaar op sy inskrywing het geblyk dat lede van die gemeenskap ontevrede is met die geriewe op die strangebied, of liewer die gebrek daaraan. "By die dagkampeer plek kon jy nie eers 'n stukkie brood eet nie, dit voel of jy sand eet, die toilets se vensters is uit, en van die braai plekke is so ongerieflik, ons mense verdien beter," lui van die kommentaar.
In haar kommentaar op die inskrywing, het Mae Koert, voorsitter van die Souwesia-komitee, wat as spreekbuis vir die gemeenskap dien, te kenne gegee dat sy gegriefde lede van die gemeenskap gevra het om hulle klagtes op die korrekte platform bekend te maak.
"Daarom het ek vir mense gevra wat kom kla het oor geriewe - waar is hulle met ons vergaderings? Dan is daar nie eens 20 mense nie," lui 'n gedeelte van haar kommentaar op sosiale media.
Koert het in 'n skrywe wat aan die Advertiser beskikbaar gestel is gesê die Souwesia-komitee "is aktief en het groot planne in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit. Sy het ook aangedring in haar skrywe dat "mense hulle moet vergewis van die feite deur gemeenskapsvergaderings by te woon".
'Nog geen besluit'
Volgens terugvoering van die Mosselbaai-munisipaliteit, is antwoorde op 2018 se petisie wel deurgegee aan die Souwesia-komitee. Dit is met die komitee bespreek op 'n vergadering gehou op 14 Oktober 2019.
Wat betref die planne rakende Souwesia, het woordvoerder Nickey le Roux gesê: "Die raad het nog geen besluit geneem rakende die weg vorentoe nie. Daar was verskeie openbare vergaderings gewees waartydens inwoners dit duidelik gestel het dat hulle teen enige langtermyn huurkontrak is, dat die gemeenskap die oord self wil bestuur en dat hulle met werkbare voorstelle oor die ontwikkeling en bestuur van 'n oord by Souwesia na die munisipaliteit sal kom."
Volgens Le Roux het die munisipaliteit het nog geen sodanige voorstelle ontvang nie. Daar is ook glo nog geen besluit deur die raad geneem rakende die moontlike vevreemding van die grond nie.
Le Roux het wel beklemtoon dat die munisipaliteit en veral die uitvoerende burgmeester, raadsheer Harry Levendal hom verbind het volgehoue gesprekvoering ten einde 'n oplossing te vind wat alle partye sal dien.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'