Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - “ZS1 Sierra Kilo Romeo, dit is ZS1 November…”
Daar is iets besonders omtrent ‘n roepsein. Op Jeugdag het die Voortrekkers hierdie outentieke manier van kommunikeer ingespan om dié bekende kultuurbeweging se 90ste verjaarsdag te vier.
‘n Spesiale feesroepsein is vanaf die dak van die Voortrekkermonument in Pretoria geaktiveer en radio-amateurs landwyd, asook in Namibië is uitgenooi om saam te gesels.
Op Mosselbaai, het die MOTHS hulle Blaize Away-bomskuiling in Montagustraat vir die geleentheid beskikbaar gestel. Anthony Janse van Rensburg, ‘n MOTH, ‘n amateur-radio-operateur en lid van die SuidKaap Amateurradioklub (SKRAK), het die geleentheid aangegryp juis met die oog daarop om jongmense by dié bevredigende stokperdjie te betrek.
Fotogalery: Radio-amateurs en Voortrekkerkommado's vier kultuurbeweging se 90ste verjaarsdag
“As die MOTHS en SKRAK wil ons baie graag meer by die jeug betrokke raak en hierdie was ‘n geleentheid duisend.” Die SKRAK bestaan uit 24 lede vanaf Riversdal tot Knysna en is geaffilieer met die Suid-Afrikaanse Radioliga (SARL), wat hulle hoofkantoor by Sentech in Johannesburg het. Die SARL, wat slegs ses jaar ouer as die Voortrekkers is, is geafillieer met die Internasionale Amateurradioliga gebaseer in Newington, Connecticut (VSA).
Genotvolle stokperdjie
Nick Dreyer, ‘n SKRAK-lid wat Woensdag die nuwelinge touwys gemaak het, het op 12-jarige ouderdom sy eerste sender gebou. “Radio-amateurs gebruik tweerigtingradio’s om met ander radio-amateurs oor die wêreld heen te gesels. Dan is daar ook die voorreg om op spesifieke tye met ruimtevaarders aan boord van die ruimtestasie te gesels. Dit word veral gemik op die jeug,” verduidelik hy.
Die kommunikasie behels verskillende modusse naamlik foon (praat), Morse-kode, verskeie digitale modusse en televisie. Daar is verskeie klasse van lisensises wat aan radio-amateurs uitgereik word na die suksesvolle aflê van ‘n eksamen en praktiese toetse. Dit is Klas A, vir persone ouer as 25 jaar en Klas B vir persone in die ouderdomsgroep van 10 jaar tot 25 jaar.
“Die klasse word geïdentifiseer deur die voorvoegsel van die roepsein. Ouer as 25 kry ‘n ZS of ZR voorvoegsel en die jongeres, ZU,” veruidelik Dreyer.
Die eksamens word twee keer per jaar in Mei en Oktober aangebied en deur die SARL geadministreer namens IKOSA. Eksamens moet aan sekere internasionale standaarde voldoen.
Die grootste genot van die stokperdjie, meen Dreyer is om te eksperimenteer met verskeie elektroniese apparate soos Arduino en Raspberry Pi.
“Dan is daar die uitdaging om sonder enige beskikbare infrastruktuur kommunikasie daar te stel. Die stokperdjie het regtig verskriklik baie interresante fasette.”
Kyk 'n video hieronder:
Betroubaar
Dreyer meen dat die beskikbaarheid van nuwe tegnologie, soos selfone die wêreld van amateurradio minder aantreklik vir jongelinge maak.
“Min weet hulle egter dat hulle afhanklik van selfoontorings en satelliete is om die sein oor te dra. Ten tye van ‘n ramp kan hierdie tegnologie hulle in die steek laat soos tydens die groot brande in Kalifornië. Amateurradio-operateurs lewer ‘n essiensiële kommunikasiediens in die geval van rampe.”
Volgens Dreyer is toetrede tot die stokperdjie maklik.
“Die wil om te leer oor elektronika en ‘n bietjie tyd vir die eksamen is al wat kort. Vandag is handstelradios nogal goedkoop. So tussen R600 en R1 000. Daarmee kan jy nogal ver kommunikeer. Afhangend van die omgewing, so tussen 50 en 200 kilometer. Radio-amateurs het ook al sagteware geskryf om radio’s met rekenaars te beheer.”
Omdat radio amateurs toe gang het tot verskillende bande van die radiogolf spektrum kan hulle wêreld wyd kommunikeer. Dan is daar ook nog die vermoë om radio golwe van die maan te bons terug aarde toe en sodoende ook kontak te maak.
Groot pret
Anna Herbst van die George Voortrekkerkommando, wat Mosselbaaiers insluit, sê dat die jonges met oorgawe deelgeneem het.
“Hulle was eers senuweeagtig, maar het later rustig saamgesels selfs met 'n radio-operateur aan die Weskus. Dit was vir seker ‘n goeie manier om Jeugdag te kon deurbring saam met die gawe lede van die SKRAK.” Herbst sê haar graad 10- span het die geleentheid benut as prakties vir hulle radiospraakspesialisasie waarin hulle ‘n kenteken kan kry.
Daar is verskeie hoogtepunte jaarliks op die radio-amateurs se kalender. Een hiervan, wat weer saam met die Voortrekkers aangepak sal word is die CQ Hou koers wat op 16 en 17 Oktober gehou word.
“Voortrekkerkommandos oor die land kry dan die geleentheid om via radio met mekaar te gesels en die leier van die Voortrekkers lewer sy jaarlikse boodskap oor dieselfde medium aan hulle.”
Vir meer oor die SKRAK, kontak Nick Dreyer (082 454 1272) of Anthony Janse van Rensburg (082 467 3365).
Voortrekkers Frits Brough en Carla Cloete word touwys gemaak deur Dave Cloete en Nick Dreyer van die Suid-Kaap Amateurradioklub (SKRAK). Foto: Cornelle Carstens
Jonges van die NSRI en Voortrekkers het op Jeugdag te doene gekry met amateur-radio. Hier is van die deelemers saam met Nick Dreyer van die Suid-Kaap Amateurradioklub (SKRAK). Foto: Cornelle Carstens
Jonges van die NSRI en Voortrekkers het op Jeugdag te doene gekry met amateur-radio. Hier is van die deelemers saam met Nick Dreyer van die Suid-Kaap Amateurradioklub (SKRAK). Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'