MOSSELBAAI NUUS - Die bestuurder van 'n Volkswagen Polo moes op Donderdagaand, 27 Februarie baie vinnig afskeid neem van sy voertuig nadat dit in Steenbrasstraat aan die brand geslaan het.
Aldridge Carolus, eienaar van die wit Polo 1.4-luikrug, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy alleen winkel toe gery het.
"Ek het eers 'n brandreuk opgemerk en toe vlamme by die paneelbord sien uitkom. Ek het dadeklik gestop, die sleutel uit die aansluiter gehaal en die brandblusser agter in die voertuig uitgehaal, maar dit wou nie werk nie," vertel Alridge. Intussen het ‘n motoris by Carolus gestop om hulp te verleen, maar hulle kon ook nie die batteryterminaal loskry nie. "Ons het toe maar opgegee en van die voertuig wegbeweeg.”
Die voertuig het heeltemal uitgebrand. 'n Polisiebeampte, wat van diens af was, sers Adrian Jafta, het op die toneel aangekom en die brandweer geskakel. Hy het ook die pad afgesper vir veiligheid.
Volgens Jafta het die voertuig se bande gebars en was daar geen ander ontploffing gewees nie.
Die Polo na hy heeltemal uitgebrand het. Foto: Adrian Jafta
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'