MOSSELBAAI NUUS - Dooie voëls wat die afgelope naweek op die walle van die Hartenbosrivier opgemerk is, is danksy die vrywilligers van die nie-regeringsorganisasie, Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T) verwyder.
Die sterftes is waarskynlik die gevolg van voëlgriep wat ook seevoëls in die area aantas.
S.M.A.R.T en personeel van die Sentrum vir rehabilitasie van seevoëls en Pikkewyne (Saprec) verwyder reeds sedert November siek en dooie voëls van die strande in die omgewing nadat voëlgriep ook onder seevoëls uitgebreek het.
Tersia Marais van S.M.A.R.T sê die staatsveearts in George vra dat die voëls begrawe moet word. "Ons het egter besluit dit mag dan steeds 'n gevaar vir ander voëls en strandgebruikers meebring. Daarom is besluit om die voëls te laat verbrand."
Die koste verbonde aan die verbranding van die voëlreste beloop R600 vir 25kg voëls, en is tot nou toe deur Saprec alleen befonds. Hierdie fondse moet liefs gebruik word vir die voer van voëls en pikkewyne wat gered kan word.
Die finansiële impak het meegebring dat besluit is om voorlopig nie verder die Hartenbos area op te ruim nie.
Sou die publiek bereid wees om 'n bydrae te maak, sal die vrywilligers van S.M.A.R.T voortgaan om die strande skoon te hou. Kontak gerus Tersia Marais per Whatsapp (072 227 4715).
Die walle van die Hartenbosrivier is weer skoon nadat lede van die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T) talle dooie voëlreste verwyder het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'