MOSSELBAAI NUUS - Tydens die pas afgelope maandelikse raadsvergadering het die raad die groenlig gegee vir die eerste vakansiefees op Mosselbaai gemik op skoolverlaters.
Sedert kaartjieverkope geopen het, is daar volgens berigte reeds 1 000 kaartjies vir die eerste fase uitverkoop.
Die geleentheid naamlik Matriekbaai vind op verskeie feesterreine, onder meer Diasstrand en Hartenbos, plaas.
Matirekbaai sal ook 'n welkome verlenging van die somervakansieseisoen vir plaaslike besighede meebring. Veral akkommodasie-instellings en die gasvryheidsbedryf, wat weens Covid-19 die afgelope twee jaar besonder moeilike omstandighede moes oorleef, kan uitsien na 'n toeloop van jongmense in die eerste paar weke van Desember.
Wetstoepassing
Matriekbaai is egter uitsluitlik vir jongmense bo 18-jaar oud. Mosselbaai-munisipaliteit plaas 'n baie hoë premie op gemeenskapsveiligheid en sal daarom 'n beleid van geen verdraagsaamheid volg teenoor enige persoon wat alkohol misbruik, hul skuldig maak aan vandalisme of openbare wangedrag.
Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, raadslid Leon van Dyk het dit baie duidelik gestel dat deeglike beplanning betreffende veiligheid en wet en orde gedoen word met spesifieke fokus op wetstoepassing, die voorkoming van drankmisbruik en saakbeskadiging.
'n Omvattende program sal gevolg word om te verseker dat wetstoepassing deeglik en deur alle rolspelers verseker word.
Beraadslaging met alle rolspelers sal gehandhaaf word.
Baie doendinge
Die munisipaliteit het sy ondersteuning toegesê aan die organiseerder, Lian Fourie wat in samewerking met voorkeurborge reeds die betrokkenheid van A-klas kunstenaars bevestig het.
Benewens die musiekfees, bied Mosselbaai 'n groot verskeidenheid adrenaliengedrewe doendinge vir die jongklomp om hulle behoorlik besig te hou.
Met Matriekbaai in gedagte, nooi die munisipaliteit families om hul vakansieplanne nou reeds te maak om die somerseisoen op die onderskeie blouvlagstrande en by ander toerisme-aantreklikhede te spandeer.
Monitering van dienste
Tydens die vakansieseisoen hou die munisipaliteit daagliks seisoenmoniteringsvergaderings waar belanghebbendes in die toerisme en veiligheidsgemeenskappe saam met munisipale afdelings, alle diensleweringskwessies wat mag opduik aanspreek, juis met die oogmerk dat gemeenskapsveiligheid deurentyd voorrang sal geniet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'