MOSSELBAAI NUUS - Varkboere op Mosselbaai het die afgelope week hulle kommer uitgespreek oor die wyse waarop die hoogs aansteeklike Afrika-varkpes wat op KwaNonqaba uitgebreek het en intussen na George versprei het, hanteer word.
Baie van die varkboere is van mening dat in plaas van kwarantyn, siek varke dadelik van kant gemaak moes word.
Die Wes-Kaapse departement van landbou se staatsveeartsenydienste het intussen ook 'n kwarantynkennisgewing aan varkboere in Thembalethu uitgereik, nadat Afrika-varkpes (ASF) in die gebied bevestig is.
Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, het gesê die kwarantynkennisgewing doen 'n beroep op gemeenskapslede en varkboere om geen varke of varkprodukte uit die gebied te verwyder nie om verdere verspreiding van die siekte te voorkom.
Meyer het varkboere versoek om goeie biosekuriteitsmaatreëls toe te pas om dieregesondheid en -veiligheid te verseker.
Hoof van Veeartsenydienste, dr Gininda Msiza, het gesê karkasse moet veilig weggedoen word.
"Varke moet ingesluit word om rondswerf en moontlik die optel en verspreiding van die siekte te voorkom. Hande, skoene, klere en toerusting moet ontsmet word voor en na kontak met varke, en vleisprodukte moet ontsmet word en deeglik gaargemaak voordat dit vir varke gevoer word," het Msiza gesê.
Dit blyk dat teen die ter perse gaan die siekte nog nie na ander gebiede in die Tuinroete versprei het nie.
Intussen het 'n varkboer van Mosselbaai aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat alle varke wat by slagpale in die omgewing aankom, vanaf kommersiële varkplase is en varkpes-vry is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'