TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die inisiatief om 'n digbundel met die Covid-19-pandemie as tema te publiseer ontvang nie net groot ondersteuning deur digters van oor die land nie, maar word ook deur die KKNK as 'n projek ondersteun.
Die bundel, Maskers en Mure, word deur Turksvy Publikasies wat verlede jaar in die Klein-Karoo gestig is, in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) uitgegee.
Binne slegs ses dae na die aankondiging dat digters genooi word om gedigte voor te lê, het 25 gevestigde Afrikaanse digters reeds aangedui dat hulle gaan deelneem en teen Dinsdagoggend het nege die daad by die woord gevoeg en reeds gedigte aan Daniel Hugo, die hoofkeurder, gestuur.
Twee van die digters wat in die buiteland is, Jerzy Koch (Pole) en Meyer van Rensburg (Engeland) het reeds gedigte voorgelê. Ander bekende digters van wie gedigte reeds ontvang is, is Johan Myburg, Ernest Loth, Andries Bezuidenhout, Koos Kombuis, Christo van der Westhuizen, Lina Spies, Lochner de Kock en Fourie Botha.
In haar onderneming om ook 'n bydrae te stuur, sê Maretha Maartens: "Ek is daarvan oortuig dat daar in die digkuns iets van hierdie era in die geskiedenis van die mensdom en van ons as Suid-Afrikaners vir die nageslag bewaar moet word."
Behalwe dat gevestigde digters se voorheen ongepubliseerde gedigte in die bundel opgeneem word, word voorleggings van opkomende digters wat nog nie hulle eie bundels gepubliseer het nie, ook streng gekeur vir opname in die bundel. Verskeie gedigte van ongepubliseerde digters is ook reeds vir keuring ontvang.
Die inisiatief van die bundel het van Francois de Jong gekom en Turksvy Publikasies het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) genader om die projek te steun.
Hugo Theart, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, het verlede week gesê digkuns is een van die kunsvorme wat verlede jaar weer deel van die KKNK sou wees en toe saam met al die ander aanbiedinge slagoffers van die pandemie was. Daarom is dit vir hom verblydend dat 'n projek soos hierdie die lig sien sodat die pandemie ook in digkuns opgeteken en bewaar kan word.
Digters wat gedigte wil voorlê kan 'n maksimum van twee ongepubliseerde gedigte per e-pos aan Daniel Hugo by danielhugo.skryf@gmail.com stuur.
Gedigte moet die Covid-19-pandemie as oorhoofse tema reflekteer. Die keerdatum vir voorleggings is 28 Februarie en digters wie se gedigte goedgekeur is, sal teen 15 Maart in kennis gestel word.
Slegs digters wie se werke goedgekeur is, sal kennis ontvang. Daar word beoog om Maskers en Mure gedurende April vry te stel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'