MOSSELBAAI NUUS - 'n Gratis ontbytgeleentheid word eersdaags aangebied vir geestelike leiers wat belangstel in gesprek oor die eenheid van die liggaam van Christus in Mosselbaai.
Die geleentheid begin om 10:00, Saterdag 27 Januarie in die Portao Diaz Hotel in D'Almeida.
Belangstellendes moet asseblief voor of op 20 Januarie bevestig as hulle die geleentheid wil bywoon.
Die doel van die byeenkoms is om te praat oor die toestand van verdeeldheid van die gemeente van Christus hier in Mosselbaai - teen die agtergrond van Jesus se gebed in Johannes 17:20-21: "Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo - dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is."
Pastoor Kobus Klaaste, wat die byeenkoms reël namens die Apostoliese Tafel,'n groep geestelike leiers wat reeds vir 'n lang tyd gesprek voer oor, en bid vir kerk-eenheid, sê "Ons kan nie langer stilbly en maak of ons nie van God gehoor het nie.
"Ons belewenis is dat ons, die kerk, oor tyd in die teenoorgestelde rigting van God se wil vir ons gedryf het.
"Eenheid is ons Vader se hart vir sy kerk en ons kan dit nie langer ignoreer en maar net elkeen voortgaan met ons eie sake en dinge nie. Daarom ons gebed dat God in hierdie tyd meer manne sal oprig met die hart van Nehemia, wat opgestaan en gedoen het, dit wat God van hom gevra het.
"Ons nooi dus elke leier wat identifiseer met hierdie saak om by die ontbyt aan te sluit en te luister na 'n kort boodskap van pastoor Klaaste oor hulle visie en hartklop oor gehoorsaamheid aan God se wil - liefde en eenheid onder sy kinders hier in Mosselbaai."
Vir inligting, kontak Pierre (082 773 4910), Kobus (082 968 3674) of Isak (082 562 8928).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'