Heel links, met die rug na ons, is die gebou wat ons vandag ken as "Fynbos", hier nog 'n privaatwoning wat later bemaak sou word aan die Katolieke Kerk.
Oorkant die pad is die "Church House", gebou in 1868 deur die Katolieke as 'n woning vir die Priester (een slaapkamer wat ook die "Biegkamer" was), en drie kamers as klaskamers. Die drie nonne wat klas gegee het, het nie slaapplek gehad nie en moes met 'n leer opklim en in die solder gaan slaap.
In die middel van die foto is 'n huis wat lyk of dit 'n twee-kleur dak het. Die ligter kleur is 'n aanbouing en die huis staan vandag nog op die hoek van Field en Bo-Kruisstraat.
Heel regs is nog 'n gebou met twee-kleur dak. Dit was die Anglikane se skool vir anderskleurige kinders. Reg voor dit met die gewel was die Anglikaanse Kerksaal,waar hul kerkdienste ook gehou is (dit is vandag nog daar). Net links het hulle al begin om die Pastorie aan te bou.
Heel regs is die grasdak vissershuisies wat aan 'n Mnr Bridle behoort het. Hy het baie van hulle besit en aan vissers uitverhuur. Sy eie huis het later die "Hawekafee" geword.
Let op, daar is nerens 'n enkele boom nie, behalwe by 'n woning waar die inwoners die skottelgoed- en badwater gebruik het om 'n boom aan die groei te kry en hou.
Hierdie foto is deel van die Foto-Expo in Montagustraat, waar 'n indrukwekkende versameling vertoon of geberg word. Bel die kurator by 083 974 7577 vir meer inligting of om 'n besoek te reel.

Hierdie pragtige foto is in die argiewe in Kaapstad gevind deur Pieter van Reenen, wat 'n stofpad wys waar Marshstraat later gebou sou word.