MOSSELBAAI NUUS - September is lentetyd en 'n goeie rede vir die Midbrak-tuinbouklub om Lucretia van der Walt te ontmoet. Lucretia, afgestudeer in Tuinboukunde, is passievol oor inheemse tuine.
Behalwe tuine, doen sy rehabilitasie van openbare areas en werk dus gereeld saam met ingenieurs en argitekte op langtermynprojekte. Sy het soveel agtergrond en kennis oor inheemse plante, al die tuinbouklub-lede het gewens hulle het haar al vroeër ontmoet om te help met tuinuitleg.
Lucretia gee die volgende wenke vir inheemse tuine:
• Vir nuwe tuine – bepaal altyd watter tipe grond in jou tuin is. Hier in Mosselbaai-omgewing het die sandgrond min minerale, kompos is dus noodsaaklik. Rooigrond het weer baie klippe, is ryk aan minerale, maar plant moeilik.
• Wat plantkeuses aanbetref, boots die natuur na. Loop rond en kyk wat groei in die omgewing. Dink hoekom jy iets plant en hou balans ingedagte. Anders as dekoratiewe tuine, hoef inheemse plante egter nie van hoog na laag geplant te word nie en kleurskakerings is nie nodig nie.
• Deklae is belangrik – dink bas, kompos, opgekapte dekriet, vars lusernstrooi, of ouerige kraalmis. 'n Komposhoop is altyd 'n aanwins.
• Pioniersplante (vinnig groeiende plante met fyn wortelstelsel), is noodsaaklik om die grond te vestig, skadu te verskaf en voëls te lok. Sukkulente en klippies gee ook tekstuur en vorm aan die tuin en het min onderhoud.
• Onthou dat melkhoutbome net 30% aan die onderkant gesnoei mag word – hierdie beskermde bome bewaar ons area teen verspreiding van onbeplande brande.
Plant en geniet jou inheemse tuin.
'n Inheemse tuin met uitsig oor die see.
Lucretia (links) vertel tuinboulede van inheemse tuine.
Potte met dekoratiewe elemente lyk ook baie mooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'