MOSSELBAAI NUUS - Vir diegene wat gereeld die Marshstraat-afrit vanuit Louis Fourieweg in die rigting van Diasstrand gebruik, is ‘n kort verposing by die rooi verkeerslig na alle waarskynlikheid deesdae ‘n plesier.
Dit is danksy ‘n nuwe tuin wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit se parke-afdeling by dié afrit uitgelê is.
Inwoners sal onthou dat daar voorheen ‘n verslonste palmboom en ‘n verouderde kunswerk van onder meer Bartolomeus Dias was, wat nou vir die nuwe tuin plek gemaak het.
Dié proses is in April vanjaar deur die direktoraat van gemeenskapsdienste geïnisieer toe toestemming vir die verwydering van die palmboom gevra is.
Nadat die nodige prosesse afgehandel is, is die taak in die bekwame hande van die parke-afdeling onder leiding van Abrie Nel (senior bestuurder: tuinbou en rekreasie) en Francois Niewoudt (bestuurder: tuinbou) gelaat.
Volgens Niewoudt, is die projek ‘n getuigskrif van uitstekende spanwerk. Die projek, wat uitleg, aanplanting en verfraaiing betref, is binne ‘n dag afgehandel.
Die geelhoutboom wat midde-in die tuin geplant is.
“Almal van die direkteur tot die wyksraadslid en elke lid van die span het ingekoop,” berig Nieuwoudt. Volgens sy verduideliking is die plante letterlik met passie en al in dié lappie grond ingespit.
Nieuwoudt gee krediet aan die parke-afdelingspan wat hulle kreatiwiteit ingespan het vir die projek. Daar is selfs besonderse klippe vanuit Tarka gebring om ‘n bepaalde fokuspunt in die tuin te skep. Op hierdie manier is die geskiedkundige woonbuurt ook gehuldig. ‘n Geelhoutboom, een van Suid-Afrika se spog inheemse spesies is aangeplant, saam met onder meer agapanthusplante, gazanias, noem-noem en dies meer.
Volgens Niewoudt was ‘n groot fokus daarop om ‘n waterslimtuin te skep. Met die oog op besparing is soveel moontlik plante en steggies vanuit ander munisipale tuine gebruik. Niewoudt sê dat die tuin, wanneer dit gevestig is en begin blom, skakerings van blou en wit sal oplewer.
Klip is uit Tarka gebring om as 'n fokuspunt in die tuin te dien.
Die parke-afdelingspan soos een man aan die werk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'