MOSSELBAAI NUUS - Die seewater klots sag teen die Amstel Diep waar sy in die Mosselbaaise hawe dryf. Gereed vir nog 'n seevaart sowat 50 seemyl die hawe uit.
Sy vang stokvis, reeds sedert 1968 en is vandag nog in gebruik. Ek en Kobus Maritz, besturende direkteur by Seavuna, die besigheid aan wie Amstel Diep vandag behoort, staan langs haar op die kaai en kyk hoe die vorige week se stokvis uit die "visgat" van Amstel Diep gelaai word.
Die Amstel Diep het saam met haar voormalige kaptein asook eienaar, Piet Bakker vanuit Holland in 1989 na Mosselbaai vertrek.
Piet het sy geliefde Amstel Diep self hierheen gevaar en het ook 'n ander visserboot, Immanuel saam met hom gebring. Die Immanuel het egter intussen op die rotste geloop en is nie meer vandag in gebruik nie. Bakker het die Amstel Diep aan twee broers en besigheidsmanne op Mosselbaai, Rob en John Edwards van die destydse Mariette Fishing teen R2.5 miljoen verkoop.
Die twee broers het saam met my vir Amstel Diep kom kuier en verkyk hulle aan haar. "In 1982 het ons 'n besigheid genaamd Outeniqua Fishing gekoop en in 1985 het ons oorsee gegaan, op soek na bote. Ons het Amstel Diep vir vyf jaar besit, maar het ons bote na die vyf jaar verkoop omdat ons nie genoeg kwotas gekry het nie," sê John.
Ons kyk na haar lengte en boustruktuur en volgens Kobus is Amstel Diep 'n goed geboude boot. "Sy het goeie staalwerk, en word elke twee jaar uit die water gehaal om nagegaan te word. Die dikte van haar metaal is vandag nog min of meer dieselfde dikte as toe sy gekoop is. Ja, sy is 'n goeie visvangboot," sê hy.
Die Amstel Diep neem weekliks 12 bemanninglede die see in. Sy vang vars vis met nette en kan tot 20 ton vis dra. Kobus sê die nette word tussen 150m en 300m diep af na die seebodem gesak. Die Amstel Diep kan op die diepsee ook vaar, maar gaan gewoonlik tot by Kaappunt, soms verby Port Elizabeth en ook af tot by Aghulas. Sy is nie uit op die see vir langer as 'n week nie en haar kaptein, Rowen Jonck, vaar haar terug na die hawe sodra sy genoeg vis dra.
"Haar enjin is 750 perdekrag. Sy het 'n dieselenjin en dit is steeds dieselfde enjin as waarmee sy vanuit Holland hier aangekom het."Kobus sê soos die tegnologie verbeter is moderne bote goedkoper om te gebruik. "Daar is druk op die ouer bote, maar op die stadium is daar nog geen rede om haar uit diens te haal nie."
Tot die Amstel Diep te oud is om haar bemanning veilig die see in te vaar, bly Mosselbaai se hawe vir eers nog haar tuiste.
'n Ou foto van die Amstel Diep.
'n Werker laai die stokvis wat Amstel Diep gedra het, uit.
Kobus Maritz by die Amstel Diep. Foto's: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'