Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Bekende Mosselbaaier, Bennie Badenhorst, leef sy liefde vir die see, die natuur en vir diere met oorgawe uit.
Mense wat al meer as 67 jaar in Mosselbaai bly, sal onthou dat Badenhorst as jong seuntjie in een van die huisies op die draai van Louis Fourieweg, net so duskant Diasstrand grootgeword het.
Die see was nog altyd deel van sy lewe. Swem en visvang was van die aktiwiteite wat hy as jong kind geniet het. Sy liefde vir diere en veral honde, het 'n groot rol in sy lewe gespeel.
Dit het egter nie by die normale troeteldiere gebly nie. Mettertyd het hy varke aangehou en geteel by sy huis, die bekende Blue Waters, waar hy nou 'n groot deel van sy lewe bly.
Sowat 'n jaar en 'n half gelede het 'n nuwe troeteldier sy hart vermurwe toe hy ingewillig het 'n hanslam te versorg.
En so het Tjoppie deel van die Badenhorst-huishouding geword. Tjoppie is 'n kruising tussen 'n Meatmaster- en Dorper-skaap. As jong lammetjie het hierdie klein rammetjie gedink hy is mensekind en het selfs op die bed saam met familielede geslaap.
Sedertdien het die lammetjie egter in 'n ordentlike skaapram met horings en 'n bypassende temperament geword. Mens loer hom maar net so met die een oog as jy nie een van sy kopstampe wil ervaar nie.
Hy is goed bevriend met een van die honde op die werf en dink beslis nie aan homself as 'n skaap nie. Een van sy gunsteling geregte is boonop hondepille. Dis nou nadat hy al wat 'n plant in die tuin reeds gefynproe het, of altans dit wat van hulle oor is.
Kyk 'n video hieronder:
Badenhorst wil egter nie vir Tjoppie laat regmaak nie aangesien dit sy temperament sal verander maar oorweeg dit nou aangesien hy soms moelik kan raak.
"Ek moet seker maar eendag vir hom 'n ooitjie kry," sê hy.
Haal Badenhorst 'n tou uit en bind dit om Tjoppie se halsband, is Tjoppie die ene opgewondenheid. Tjoppie is die voorbok wanneer daar strand toe gegaan word om in die branders te baljaar.
"Ja, die mense kyk my omtrent vreemd aan en vra vrae oor dié skaap op die strand," lag Badenhorst.
En tog, erken hy ruiterlik, is hy alte lief vir ou Tjoppie.
Bennie Badenhorst vat sy geliefde Tjoppie vir 'n wandeling op die strand.
Bennie Bdenhorst met sy hondjie onder die arm en sy skaap, Tjoppie in die water by Diasstrand.
Bennie Badenhorst saam met sy geliefde Tjoppie, die skaapram wat sy swemmaat geword het. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'