MOSSELBAAI NUUS - Op Sondag, 8 Maart het 'n nuwe hoofstuk aangebreek vir die diegene wat worstel met verslawing toe die organisasie, Kwanele herleef het in die Anglikaanse Kerk se saal, Uitbreiding 8.
Kwanele is in 2006 gestig deur 'n groep gerehabiliteerde verslaafdes. Kwanele is 'n Nguni-woord wat beteken "genoeg is genoeg".
Aanvanklik was die doel van die organisasie om te dien as 'n bewusmakingsveldtog om middelafhankliheid te voorkom deur persoonlike stories te deel, eerder as om ingryping te bewerkstellig.
Op grond van die behoefte onder die gemeenskap, het Kwanele groter steun begin bied deur verslaafdes na rehabilitasiesentrums te verwys, ondersteuningsgroepe vir verslaafdes te fasiliteer en families wat deur verslawing geraak word, behulpsaam te wees.
In reaksie op veral die noodkreet van ma's wat dikwels alleen in hulle stryd is wanneer dit kom by die hantering van hul dwelmverslaafde kinders, was daar veral 'n behoefte om uit te reik na hierdie groep vanweë die stigma en skande wat verslawing meebring.
Herlewing
Kwanele se herlewing, 13 jaar ná die stigting daarvan, is die resultaat van drie van die oorspronklike lede wat genadiglik steeds vry van verslawing leef se individuele oortuiging om iets aan die mag van dwelmafhanklikheid binne die gemeenskap te doen. "Ons is oortuig daarvan dat hierdie geen toeval is nie. Ons glo dat God van ons verwag om terug te ploeg, aangesien ons die genade ontvang het om vry van verslawing te leef," sê die komitee.
Kwanele se missie is om te fokus op die voorkoming van verslawing, intervensie en verwysing, ondersteuning tydens rehabilitasie, asook om ondersteuning aan familielede te bied. "Die oogmerk is om 'n gemeenskapsgebaseerde, nie-winsgewende organisasie te wees, wat aktief die effek van middelafhanklikheid in die gemeenskap teenwerk."
Hulpmiddels
Kwanele bied die volgende dienste aan:
- 24h-hulplyn op WhatsApp
- persoonlike getuienisse by kerke
- inligtingsessies by skole
- gereelde gebeds- en ondersteuningsessies vir geaffekteerdes
- persoonlike ondersteuning van verslaafdes wat hulp soek
- volgehoue inligtingsessies en ses maandelikse teen-dwelmveldtogte
- 'n virtuele instap-ondersteuningsdiens by plaaslike kerke, twee maal per week vir twee ure
Vir meer inligting, kontak Setchmor Rhoodes (073 061 2138).
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'