Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Diegene wat verlede Donderdag, 28 April se gesprek oor streeksoutonomie vir die Suid-Kaap bygewoon het, is beslis met baie pitkos huis toe.
Sprekers wat aan hierdie gesprek deelgeneem het was hoof van Solidariteit, Flip Buys, 'n kundige in outonomie, publieke reg-kenner, prof Koos Malan, Morné Mostert, hoof van sake wat verband hou met plaaslike regering by AfriForum en gesoute joernalis, Heindrich Wyngaard, nuwe uitvoerende hoof van Kaapse Forum.
Kleiner, nie minder
Flip Buys het 'n oorsig gegee van bevolkingswerklikhede in Suid-Afrika, Afrikaners se bestaansuitdagings en 'n kykie oor outonomie-modelle wat elders in die wêreld suksesvol is.
"Ons word nie minder nie, ons word kleiner in die oorhoofse bevolkingspersentasie," het Buys aan die hand van die jongste statistiek verduidelik.
Volgens hom, het Suid-Afrika beide 'n regerings- en bedelingsprobleem.
"Die land is te groot en uiteenlopend om alles suksesvol sentraal te bestuur. Dit is 'n komplekse land wat nie doeltreffend met 'n simplisitiese meerderheidsbedeling regeer kan word nie."
Afrikaners, meen Buys, se bestaans-uitdagings word boonop oorvereenvoudig. Wat die kwessie van verspreiding se impak op groter outonomie betref, het Buys na Tirool as voorbeeld vewys.
Hier woon 300 000 Duitssprekendes saam met 60 miljoen Italianers. In Suid-Tirool, waar hierdie Duitssprekendes gekonsentreerd is, het hulle 90% outonomie.
Volgens Buys, maak die yl verspreiding van Afrikaners die opsies in terme van groter outonomie problematies en dit kan deur konsentrasie oorbrug word.
Hy het na Switserland verwys as die goue voorbeeld van outonomie, maar het Israel ook genoem.
"Israel het niemand se toestemming gevra nie, maar bloot later erkenning vir dit wat hulle in praktyk tot stand gebring het."
Buys meen dat outonomie meer geslaagd is, as dit dus vanaf gemeenskapsvlak na bo opgebou word.
'Ons sal saam'
Die vlak van outonomie hang volgens Buys ook af van die samestelling van die bevolking wat uiteraard meer homogeen moet wees.
"As jy my vra hoe lyk die toekoms, vra ek hoe lyk die arbeidsmag. Dit bepaal die samestelling van die bevolking. Hierom is dit belangrik dat ons die bruin mense moet bystaan in hulle stryd teen onbillikheid. Dit is onaanvaarbaar dat mense nie kan werk kry in die provinsie waar hulle gebore is nie."
Buys het uitgestip dat die vestiging van kulturele outonomie deur middel van instellings meer haalbaar is, as om dit geografies te probeer bereik.
"Ons het wêreldwyd gaan kyk na hoe so 'n model van kulturele outonomie lyk. Omdat ons so geografies verspreid is, moet ons ons model aanpas."
Wat die Suid-Kaap betref, meen Buys, vorm George en Mosselbaai beslis 'n kritiese massa wat as 'n anker-konsentrasiegemeenskap kan dien.
FOTOGALERY: Afriforum - Gesprek oor outonomie
Buys het groot gewag gemaak van die belangrikheid van 'n netwerk van gemeenskappe.
"By AfriForum sê ons, ons sal self. Maar ook, ons sal saam. Interkulturele skakeling is vir ons kernbelangrik. Ons hoef nie altyd met mekaar saam te stem nie, maar ons kan saam werk in die dinge waaroor ons wel saamstem."
Hy het afgesluit deur te sê dat jou siening van 'n bepaalde probleem, die siening van die oplossing bepaal.
"As jy met 'n beer stoei, stoei tot die beer moeg is, nie tot jy moeg is nie."
Mikrorepublieke
Volgens prof Koos Malan is Mosselbaai 'n toonbeeld van wat deur middel van lewensdrif en inisiatief vermag kan word met ver-wysing na die Portugese seevaarders.
"Dit geld egter nie net vir ontdekkingsreise nie, maar ook vir die optrede van Afrikaners. Daar is dinge waarop ons nie trots is nie, maar ook tye in die verlede waartydens daar buitengewoon goed presteer is."
Malan het genoem dat plaaslike inisiatiewe deurslaggewend moet wees, indien outo-nomie oftewel, mikrorepublieke soos hy dit noem, nagejaag word.
Hy het na die huidige regeringsopset verwys as transformatisme, sentralisasie van mag en homogenisering wat 'n abnormale toestand skep.
"Ons het 'n 'dieftige' regering. Dis deel van die DNS. Ons beleef ekonomiese afgang, werkloosheid is hoër as 20-30 jaar gelede. Die land is 'n misdaadnes."
Malan noem belasting "wetsgesanksioneerde afpersing", omdat landsburgers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie.
Dit skep volgens hom 'n abnormale situasie en die kern daarvan is die feit dat die burgery nie self kan besluit nie.
"Die besluitnemingsvermoë berus elders. Om dit te oorkom, benodig ons selfbesluitneming en -regering. Gemeenskappe behoort ook nie voorgeskryf te word nie."
Malan meen die visie van normaliteit behoort die strewe na selfregering, veiligheid, welvarendheid, geluk en die leef binne 'n Westers-beskaafde opset in te sluit, soos in 'n mikrorepubliek haalbaar is.
Hy reken dat verskeie van hierdie mikrorepublieke binne die groter konteks kan bestaan en goed met mekaar kan saamwerk.
"Deel van ons toekomsvisie moenie wees om die verbrokkeling te keer nie. Veel meer kan vermag word met betrekking tot die verskuiwing van politieke energie en dit is realisties haalbaar vir Afrikaners."
'Oop gesig en gemoed'
Heindrich Wyngaard, uitvoerende hoof van Kaapse Forum wat Woensdag, 4 Mei amptelik in Kaapstad bekendgestel is, het die sessie afgesluit.
Wyngaard het op 'n meer persoonlike vlak oor sy betrokkenheid by Kaapse Forum gesels.
"Toe die voorstel gemaak is vir die ontstaan van Kaapse Forum en wie dit sou moes lei, het ek besef dat ek met my groot mond nie nee kan sê om iets tasbaars te doen aan die goed waaroor ek as joernalis skryf nie. Joernaliste kom nie met oplossings vorendag nie. Hier kan ek dus nou toetree, want ek is goed vertroud met wat in die land aangaan," het Wyngaard gesê.
Hy het dit duidelik gestel dat Kaapse Forum nie 'n "bruin AfriForum" is nie.
"Dit is 'n Wes-Kaapse burgerlike organisasie, wat nie om verskoning daarvoor vra dat ons weet wie steeds die meerderheid inwoners in die Wes-Kaap is en hoe dit daar gaan nie. Ek staan met 'n oop gesig en gemoed hier, dankbaar vir die geleentheid om deel van die oplossings te wees."
Louis Cook (AfriForum Mosselbaai), prof Koos Malan, Morné Mostert (AfriForum - munisipale regeringsake), Flip Buys (Solidariteit), Heindrich Wyngaard (Kaapse Forum) en Joy Cook (AfriForum Mosselbaai) by die Diaz Hotel.
Foto's: Cornelle Carstens
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'