Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope naweek het menige Mosselbaaier nostalgies kon toekyk hoe twee groot ou stoomtreinreuse uit vervloë dae, 'n Klass 24 No 3655 en Klas 19D No 3322, vir oulaas uit Voorbaai na hul nuwe tuiste vertrek.
Een van die stoomtreine, die Klas 19D No 3322, herdoop tot Dominique is voorheen in Voorbaai en is onlangs weer hier gediens.
Dit was 'n bittersoetgroet - enersyds dankbaar dat meestervakman Bobby Rudman en sy span die lokomotiewe uit die vergetelheid ontruk en van roes gered het, maar tog ook 'n tikkie hartseer omdat hul pluime stoom nie gou weer hier in die lug sal talm nie.
Lewende museum
Tóg is daar goeie nuus vir Mosselbaaiers aangesien die Ceres Railway Company ver gevorder is met planne om 'n eerste, lewende museum en ambagskool op Voorbaai te vestig.
Volgens die direkteur van die Ceres Railway Company, Derick du Toit is die planne met Voorbaai 'n noodwendige voortvloeisel uit die maatskappy se planne om stoomtreintoerisme 'n sterk rolspeler in die Wes-Kaapse ekonomie te maak.
"Uit die bestaande konsessie met Transnet het 'n leemte geblyk in die oordrag van kennis en vaardighede. Die strydros in Voorbaai wat meeste van die stoomlokomotiewe tot nog toe vir ons gerestoureer het, Bobby Rudman, het pas 69 jaar oud geword.
"Dit is kernbelangrik dat sy kennis en vaardighede aan 'n volgende generasie oorgedra word in 'n gestruktureerde ambagskool. Dit bied die geleentheid om die Voorbaai-fasiliteit in 'n lewende museum te omskep waar die passie vir stoomtreine eerstehands beleef kan word."
Aanvanklike planne is om klein te begin met sowat 10 leerlingvakmanne wat nie net in die stoomtreinkuns toegerus sal word nie, maar ook algemene vaardighede in die bedryf sal aanleer.
Instandhouding
"Planne vorder ook goed om soortgelyke inisiatiewe op Worcester by Kleinplasie tot stand te bring, veral omdat die Voorbaai-geriewe nie alle grootte stoomlokomotiewe kan akkommodeer nie. Uiteindelik sal die Voorbaai en Kleinplasie-fasiliteite die verskillende maatskappye wat stoomtreine bedryf se voorraad kan diens en in stand hou."
Die Ceres Railway Company benut, benewens die drie stoomlokomotiewe wat op Mosselbaai vir hulle diensgereed gerestoureer is, ook die Rooi Duiwel, wat in 'n bruikleen-ooreenkoms met Transnet Heritage aangewend word. Daarbenewens het hulle onlangs ook die lokomotiewe van die Atlantic Railway Company op bruikleen oorgeneem en sal waarskynlik op 1 Julie die gewilde ritte oor naweke vanaf Kaapstad na Simonstad herinstel. Die datum sal afhang van die herstel van die stasie by Simonstad wat gereeld deur seesand toegewaai word.
Passasiersdiens vir Mosselbaai
Groot planne vorder ook goed en sodra die ooreenkoms met Transnet gefinaliseer word en meer lokomotiewe op Voorbaai beskikbaar gestel kan word, sal 'n passasiersdiens tussen Mosselbaai en die Transnet Museum op George weer ingestel word.
"Die groot uitdaging tans is egter om genoegsame passasierswaens te bekom om die diens na behore te kan aanbied," berig mnr Du Toit.
Hy sê die Ceres Railway Company is baie dank aan Bobby Rudman en sy span verskuldig. "Ons het Bobby ook moes oorreed om sy aftrede vaarwel toe te roep. Sy betrokkenheid, vaardigheid en kennis, soos ook die van die span wat saam met hom werk, vorm 'n belangrike deel van ons planne vorentoe."
Nostalgies gegroet
Die afgelope naweek het entoesiaste oral langs die pad hul verkyk aan die twee lokomotiewe wat aan mekaar gekoppel was en boonop 'n passasierswa van ouds op sleep gehad het.
Die lokomotief nommer 3322, nou tot Dominique herdoop, is 'n oliebrander stoomenjin wat die afgelope naweek weer die lang pad afgelê het om by die stal van stoomlokomotiewe van die Ceres Railway Company aan te sluit.
Du Toit het vroeër vir Rudman en sy span werktuigkundiges ingespan om 'n klas 19D-lokomotief, nommer 3321, wat intussen tot Jessica herdoop is, en toe die kolebrander, 'n klas 19B, nommer 1412, wat Bailey herdoop is, versigtig en liefdevol tot hul oorspronklike trotse glorie herstel.
Die Klas 24 no 3655, Jenny is deur die Nieu Seelander Grant Bradley aangeskaf en is na Kaapstad verskuif. Jenny sal ook deur die Ceres Railway Company op bruikhuur aangewend word om die liefde vir stoomtreine by nog generasies te verewig.
Lees 'n vorige artikel: Groot ou lokomotiewe gegroet
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'