MOSSELBAAI NUUS - Weereens het die howe 'n sterk boodskap aan die gemeenskap gestuur toe 'n moordenaar onlangs tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Sinethemba Mhlawuli, wat sy eggenoot Nomanse Sylvia Mdecasi met verskeie voorwerpe geslaan en doodgemaak het, is op 5 Februarie deur streeklanddros Neels Nortjé in die Mosselbaai-streekhof tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Drie jaar van die vonnis is opgeskort vir vyf jaar met die voorwaarde dat hy nie weer aan moord of strafbare manslag skuldig bevind word tydens die periode van opskorting nie. Mhlawuli is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Mdecasi en Mhlawuli was vanaf 'n taverne op pad huis toe, toe 'n argument ontstaan het en die slagoffer vermoor is.
Die saak is suksesvol ondersoek deur die ondersoekbeampte van die KwaNonqaba-polisie, sers Dominique Deuster.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'