MOSSELBAAI NUUS - Luitenant Kolonel Albert Haggard lê môre, op Vrydag, 21 Desember, die tuig na 42 jaar in die polisiediens neer.
Selferkende beheervraat, stasiebevelvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie, "Kolonel" of vir sommiges sommer net ou "Haggie"; noem hom wat jy wil, vir die afgelope nege jaar was hy die stuurman van dié vooraanstaande polisiestasie met 95 personeellede aan sy sy.
Soggens 06:00 sit hy in sy swart leerstoel. Nie later nie, want die dag het begin en hy wil weet wat in sy bedieningsgebied gebeur.
Sondagoggende is hy daar. Agter sy groot lessenaar, wat pynlik netjies gehou word. Die wat sy kantoor gereeld besoek ken al die milieu: die plaaslike radiostasie se Afrikaansemusiek wat hard in die agtergrond blêr, die telefoon wat onophoudelik lui, gesprekke op die beheerradio tussen polisiebeamptes wat in die agtergrond weergalm, sy selfoon met 'honderde' WhatsApp-groepe wat gereeld lui en 'n rekenaarskerm wat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras in die stasie wys en altyd 'n oopdeur beleid.
Só sit hy elke dag met sy blink swartskoene en bestuur sy passie. Sy dryf, omdat hy 'n verskil wil maak.
Hy is die stigter van verskeie teen-misdaad WhatsApp-groepe, ywerige rolbalspeler, man vir sy "Griekse prinses" en pa van vier kinders.
Dit alles is hy ook, maar die wat hom ken en saam met hom werk weet, polisieman wees, is deel van sy daaglikse bestaan.
Colesberg
Sedert sy dae as jong rugbyspeler vir die polisie in Pretoria en sy opleiding daar, het hy die lewe al geproe, soms was dit bitter. Sy ervaring as polisiebeampte is veral geslyp by die Colesberg-polisiestasie, as jong, onervare konstabel. "Dit was 'n klein polisiestasie en daar was nie speurders nie maar die gemeenskap het ons op die hande gedra. As die foon daar gelui het, en jy tel dit op, en daar is 'n moord, dan ondersoek jy dit." Soms het hy 'n "sinkplaatpad" gestap, soos hy dit self stel, maar ten spyte van alles wat die lewe na sy kant toe gegooi het, leef hy veral volgens twee beginsels: trots en eerlikheid.
Dit is welbekend dat nie almal positiefgesind teenoor die Suid-Afrikaanse polisiediens is nie. Ek vra hom daaroor, aangesien hy nou die diens gaan verlaat. "Ek sal nooit sleg van die polisie praat nie. Mense wat by my aan huis kom weet dit ook en ek kan jou dit sê, daar is dalk polisiestasies wat korrup is, polisiebeamptes ook, maar Mosselbaai-polisiestasie is nie. Ek het regtig probeer om aktiewe buurtwagte hier tot stand te bring, want ons het nie die mense om misdaad volkome aan te spreek nie en drie jaar terug het ek hard daaraan begin werk. Die gemeenskap wou eers nie betrokke raak nie. Maar sedertdien het ons, te danke aan toegewyde bestuurslede, baie bereik en kan daar nog soveel meer bereik word. Ek glo vas aan die konsep van 'n buurtwag en inwoners wat betrokke moet raak. Dit is al uitweg."
Aftrede
Hy weet nog nie eintlik wat hy gaan doen na sy aftrede nie. "Ek was baie ure weg van die huis en ek sal beslis tyd neem om myself weer te vind."
En as jy met hom gesels, gaan die gesprekke weer terug na die polisie. Hoe hard die en daai werk. Watter goeie bestuurder die een en daai een is. Wat nog alles moet gebeur by die buurtwagte. By sektorvergaderings. Hy praat oor almal behalwe homself en die gesprek gaan altyd terug na sy passie - polisieman wees.
"Sterk leier." "Vat nie nonsens nie." "Hardwerkend." "Eerlik." Dit is kortweg hoe van sy kollegas hom opsom.
Vandag pak hy sy goed teensinnig op, want op die oog af lyk dit asof lt kol Albert Haggard sal werk tot die dag wat hy sy kop neerlê, maar aftrede vir 'n polisiebeampte op die ouderdom van 60 is 'n verpligting. Pligsgetrou was hy nog altyd...
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'