MOSSELBAAI NUUS - Die nuwe muur van die D'Almeida-stadion sal na verwagting teen einde Junie vanjaar voltooi wees.
As deel van hulle oorsigrol, het uitvoerende raadslede van die burgemeesterskomitee die vordering met die bou van die nuwe muur ondersoek.
Aangesien die ou muur 'n veiligheidsrisiko vir inwoners geword het, was die bou van 'n nuwe muur onafwendbaar.
Die bestaande muur van 2.4 meter wat 1.1 kilometer strek, het die einde van sy bruikbare lewe bereik. Dit bestaan uit gegote betonpilare met staalbewapening en gegote beton-invulstukke tussen die pilare. Van die bewapening in die pilare het geroes en dus veroorsaak dat sommige pilare begin verbrokkel het.
Verder het kwaaddoeners die muur beskadig deur die bewapening uit te breek en vir skroot te verkoop. Dit het meegebring dat dele van die muur wat onstabiel was ‘n veiligheidsrisiko geword het.
In April asook in September 2020 het dele van die muur omgeval en het die munisipaliteit planne beraam om die muur in geheel te vervang.
Aangesien die munisipale eiendom beveilig moet word, moes die munisipaliteit noodgedwonge 'n nuwe omheiningstipe vind. Die uitdaging was om ‘n muur te ontwerp wat uiters sterk is, moeilik gevandaliseer kan word en lae onderhoud verg.
Die ontwerp van die nuwe muur bestaan uit in-situ betonfondasies en vooraf-gegiete muurelemente, wat plaaslik deur Mobicast vervaardig word. Dié ontwerp sal verseker dat gedeeltes van die mure met minimale ontwrigting en vinniger as met normale konstruksieprosesse vervang kan word.
Met die verskil in grondhoogte, dien 'n gedeelte van die muur ook as keermuur. Om hierdie rede is V3 Raadgewende Ingenieurs aangestel vir die ontwerp en om toesig oor die konstruksie te hou. Hierdie gedeelte van die muur is eerste aangepak en RUWACON is na ‘n tenderproses ter waarde van R6.8 miljoen as die kontrakteur aangestel. Die eerste fase van die projek is in Desember 2020 voltooi en is die res van die konstruksie in Januarie 2021 hervat.
Plaaslike arbeid uit die omliggende gemeenskap is betrek en 19 tydelike werksgeleenthede is tydens die konstruksiefase geskep.
Uitvoerende munisipale raadslede en senior munisipale bestuur by die D'Almeida-stadion waar 'n nuwe muur tans onder konstruksie is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'