"Nog nooit tevore in Suid-Afrika is op hierdie skaal 'n sportfees deur 'n plaaslike owerheid gratis aangebied nie. Die munisipaliteit het die verskillende sportkodes die uitdaging gestel om op eie koste aan die sportfees deel te neem en dit doelbewus om bestaande sportgeleenthede soos die KFC Punt Krieketfees en PetroSA Marathon geskeduleer vir maksimum effek," het die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira gesê.
"Elke sportkode en byeenkoms is ongeëwenaard belangrik. Sport bou brûe en bevorder 'n gesonde leefstyl, en die munisipaliteit glo dat die Sportfees ook die plaaslike ekonomie sal stimuleer," het sy bygevoeg.
Sy het die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, dr Ivan Meyer, in Mosselbaai verwelkom en daarvan gewag gemaak dat hy eersdaags onbestrede tot provinsiale leier vir die Wes-Kaap aangewys sal word.
Dr Meyer het op sy beurt bygevoeg dat die munisipaliteit leierskap en visie aan die dag gelê het met die inisiatief om die Sportfees tot stand te bring.
"Die organisasie van byeenkomste soos die Sportfees skep vertroue en 'n kultuur van hoop. Die isiXhosa-woord vir hoop is 'Ithembo', en vergestalt kulturele warmte, 'n ruimte vir elk om hul kultuur en erfenis uit te leef. Die simboliek van kulturele warmte is belangrik vir die Wes-Kaap se mense; 'n komplekse plurale samelewing. Die simboliek van kulturele warmte word ten beste vergestalt deur gedeelde belewenisse soos sang, sport en kos. Dit verenig mense deur kulturele warmte.
"Die munisipaliteit leef die gees van hoofstuk sewe van die Grondwet van Suid-Afrika uit deur die Sport- en kultuurfees te organiseer. Die munisipaliteit verstaan die konsep van kulturele warmte en bevorder dit aktief," het dr Meyer gesê.
Die minister het boonop onderneem om aan talle byeenkomste tydens die fees deel te neem en het sy gesin ook na Mosselbaai gebring om die feestelikheid te geniet.
Mosselbaaiers het die straatfees terdeë geniet en altesaam 442 mense het ook deelgeneem aan die pretstap wat as deel van die fees gereël is.
"Ons doelwit is om Mosselbaai as die sporthoofstad van die Suid-Kaap te vestig, en ons het 'n groot stap in die rigting gegee. Ons is baie dankbaar teenoor die verskillende sportliggame of -kodes in ons dorp wat 'n reuse-bydrae gemaak het deur die individuele byeenkomste te reël.
Ons kon ook derduisende rande spaar deurdat munisipale amptenare die fees bo en behalwe hul normale verpligtinge gereël het," het Raadsdame Ferreira gesê
Sy het bygevoeg dat Mosselbaai in die gelukkige posisie is dat die fees om twee sukses-volle gevestigde sportbyeenkomste, die Hoërskool Punt se nasionale Krieketfees vir onder 19-spanne, en die PetroSA Marathon gebou kon word. Dit was die veertiende jaar dat die Krieketfees aangebied is, terwyl dit die tiende PetroSA Marathon was.
Nog luister is aan die fees verleen deur die Wes-Kaapse kunsvliegkampioenskappe wat deel daarvan gevorm het. Dié kampioenskappe sal ook die volgende twee jaar tydens die sportfees in Mosselbaai aangebied word.
Die Suid-Afrikaanse Mirror-klas seiljagkampioenskappe en die Oos-Kaapse ope dingie- en katamaranseilkampioenskappe is ook aangebied. Hoewel daar verwag is dat sowat 80 bote in totaal aan die regatta sou deelneem, was daar uiteindelik 120 inskrywings.
Raadsdame Ferreira het gesê sy wil haar dank uitspreek teenoor al die borge wat die verskillende byeenkomste ondersteun het.
"Dit is nie moontlik om 'n projek van die omvang sonder die ondersteuning van borge aan te pak nie, maar ek wil graag PetroSA, die Garden Route Casino Trust, die Departement van Kultuursake en Sport, Mosselbaai Toerisme, die Mossel Bay Advertiser en die Mossel Bay Home Ads News spesiaal noem.
"Die prysgeld wat PetroSA vir die marathon gebied het, alleen het R495 000 beloop. Die Garden Route Casino Trust het R80 000 bygedra vir onder meer prysgeld vir die raakrugby, en gedeeltelike borgskap van die feesprogram. Die Departement van Kultuursake en Sport het R40 000 bygedra.
Mosselbaai Toerisme het R10 000 tot die ontwerp en die druk van die feesprogram bygedra. Die Mossel Bay Advertiser en die Mossel Bay Home Ads News het ruim bygedra deur die fees gratis te bemark.

Mosselbaai se Uitvoerende Onder-Burgemeester, Raadslid Harry Levendal, saam met mnre Hilton Truter en Daniel Briesies.Raadslede Moodie, Bayman en Fortuin gesellig tydens die amptelike opening van die Sportfees.

Raadsheer en mev Van der Merwe saam met die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz, by die amptelike opening van die eerste Mosselbaai Sportfees.