Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Inwoner van Waboomstraat, Hartenbosheuwels glo vas dat hy die jongste vonds ontdek het wat verder getuienis lewer daarvan dat die Suid-Kaap 'n goudmyn is vir inligting oor die moderne mens se kognitiewe ontwikkeling.
Nick van der Westhuizen wys met trots artefakte wat 'n dubbelwang-handbyl insluit. Hy het dit 'n paar jaar gelede terwyl hy 'n deel van sy erf skoongemaak het, ontdek. Die stukkie grond grens aan 'n oop stuk grond wat Van der Westhuizen sê volgens sy kennis die afgelope 20 jaar deel van 'n bewarea is.
Op dié oop stuk grond, aldus Van der Westhuizen, is talle voorbeelde van soortgelyke artefakte. Kenners het dit uitgewys as tipies aan die middel- en vroeë steentydperk.
In die onlangse verlede, het Van der Westhuizen telkemale toegetree wanneer dit blyk of daar ontwikkeling op die stuk grond gaan plaasvind, want volgens hom is dit taboe. Toe konstruksievoertuie egter onlangs hulle opwagting in die omgewing maak, het hy besluit om daadwerklik aksie te neem, ter wille van bewaring.
Kyk 'n video hieronder:
Groter sensitiwiteit
Dr Jan de Vynck, van die Nelson Mandela Universiteit se African Centre for Coastal Palaeoscience, bestudeer die oorsprong van die moderne mens in die Suid-Kaap.
Hoewel hy pas verneem het van die vonds in Hartenbosheuwels, is hy oortuig daarvan dat dit deel vorm van die rykdom van voorbeelde aan die Suid-Kaapse kus wat volgens hom die enigste plek op aarde is wat klinkklaar dui op die kognitiewe ontwikkeling van die moderne mens.
"Wat ontwikkeling betref, sit ons met 'n ou probleem. Daar is 'n nuwe sensitiwiteit vir kulturele erfenis. Wetgewing is dalk argaïes en moet aangepas word om hierdie sensitiwiteit te akkommodeer." Hy het spesifiek verwys na die ontwikkeling van Hartenbosheuwels wat lank voor die argeologiese ontdekkings by Pinnacle Point plaasgevind het.
"Ons moet egter opskerp as Suid-Afrikaners wat die bewaring van ons natuurlike en kulturele erfenis betref. Een manier om dit te doen is om behoorlike omgewingsimpak- asook erfenisimpakstudies te doen, alvorens ontwikkelings deur munisipaliteite goedgekeur word."
Fred Orban, plaaslike omgewingsaktivis en erfeniskenner het beaam dat kultuurhistoriese vondse 'n groot betekenis vir nie net Mosselbaai en Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd het.
"As jy so iets raakloop, behoort alles, wetgewing of te not, in heroorweging geneem te word voor bepaalde regte om ontwikkeling toegestaan word."
Nie munisipale bevoegdheid
By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit vanweë onsekerheid oor die presiese gebiedsverwysing, aangedui dat die twisappel moontlik Erf 2100 kan wees. Dié area is volgens hulle rekords as oop ruimte gemerk en in privaat besit.
Die munisipaliteit het ook bevestig dat geen aansoek of bouplanne vir die ontwikkeling van die area tot op hede ontvang is nie. Juis daarom sal die sogenaamde boubedrywighede wat uitgewys is, ondersoek word omdat dit dus as onwettig beskou word. Volgens munisipale rekords, is die area nie deel van 'n bewarea nie.
Die munisipaliteit het voorts bevestig dat die nodige goedkeuring vir ontwikkeling, gedagtig aan die ontdekking van die artefakte, 'n erfenisimpakstudie sal moet insluit. Hierdie aansoeke behels 'n openbare deelnameproses deur inwoners van die omgewing.
Die departement van omgewingsake en Erfenis Wes-Kaap sal tot hierdie proses toetree.
Indien die gebied tot 'n erfenisperseel verklaar word, moet aansoek in terme van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne gedoen word. Wes-Kaap Erfenis of die Nasionale Regering neem hier die besluit, dit is nie 'n munisipale bevoegheid nie.
'n Meulsteen waarin bessies vermoedelik gemaal is.
Nick van der Westhuizen met enkele van die artefakte wat hy ontdek het.
Die eerste artefak wat Nic van der Westhuizen gevind het, 'n dubbelwanghandbyl.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'