Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die afgelope twee weke het daar reeds drie subantarktiese pelsrobbe (Arctocephalus tropicalis) op Mosselbaai se strande gelê en rus. Hierdie robbe kom voor in die Indiese, Stille en Atlantiese Oseaan en is kleiner as die ander pelsrobbe. Mannetjies word so twee meter en weeg 160kg en wyfies is heelwat kleiner teen 1,4 meter en 50kg.
Hulle word maklik uitgeken aan hulle kleur – albei geslagte het 'n duidelike oranje/romerige bors en gesig met bruin onderlyf. Mannetjies is donker grys tot pikswart terwyl die wyfies 'n ligter grys rug het. Robwelpies is swart by geboorte waarna hulle kleur verander na omtrent drie maande as hulle die eerste keer verhaar. Hulle snoete is kort en plat en flippers kort maar breed.
Die grootste broeikolonies naby is Gough (+- 3 000km), Marion en die Prince Edward-eilande (+- 2 177km). Hulle eet vis, seekat, kril en soms pikkewyne. Die welpies soog tot ongeveer 11 maande waarna hulle geneig is om ver weg van hul kolonies af te swem. Hulle status is nie bedreig nie en hulle kom wel van tyd tot tyd aan die Suid-Afrikaanse kus voor. Volwassenes is ook al op Robbe-eiland opgemerk.
S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team) versoek die publiek om hulle te kontak (072 227 4715) indien robbe opgemerk word op rotse of strande en om op te let na die volgende:
- Indien 'n rob op die strand gevind word moet daar eerstens gekyk word of daar ernstige wonde is, bene uitsteek of selfs ingewande.
- Indien nie, moet die rob met rus gelaat word. Hulle kan gevaarlik wees en 'n veilige afstand van ten minste vyf meter moet gehandhaaf word.
Die publiek vra baie keer waarom die robbe nie terug see toe gejaag word nie maar opgepas word terwyl hulle in die warm son lê. Robbe is soogdiere, en in baie opsigte soos honde. Hulle "bly" nie in die see nie. Hulle kan dae lank op rotse of selfs strande lê en bak in die son. Hulle gaan slegs in die water in om te gaan jag. Robbe wat op strande lê moet ook nie gevoer of natgegooi word nie. Vir 'n rob om buite die water te wees is net so alledaags soos 'n mens wat swem vir plesier en dan op die strand ontspan.
Kyk 'n video hieronder.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'