SUID-KAAP NUUS - Inwoners moet besef damvlakke is besig om te daal en moet werklik water meer spaarsamig gebruik. Dít is die onomwonde boodskap van die Mosselbaai-munisipaliteit wat waarsku dat damvlakstatistieke glad nie gerusstellend is nie.
"Die inhoudsmaat van die drie damme wat Mosselbaai van drinkwater voorsien moet in berekening gebring word wanneer damvlakke vergelyk word. Reeds sedert Maart 2018 daal die totale kapasiteit in al drie die damme; die Wolwedans-, Ernest Robinson- en Klipheuwel-damme.
"Die Hartebeestkuildam, wat veral water aan landbouers verskaf, is vir meer as 'n jaar reeds feitlik leeg en kan glad nie meer water lewer nie," berig die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee. Die dam se watervlak is volgens die departement van water en sanitasie tans maar 3.2%, vergeleke die 6.3% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Landbouers wat van die Hartebeestkuildam afhanklik is, beleef nou een van die ergste droogtes nog.
Herbertsdale se drinkwater
In Herbertsdale en Buisplaas is beide inwoners en landbouers in die omgewing in 'n drinkwaterstryd gewikkel.
Gemeenskappe hier is afhanklik van boorgate wat die dorpe se reservoirs voed. Tans lewer die boorgate nie die verwagte kapasiteit nie. Die reservoirvlakke daal.
"Hoewel vars drinkwater vanuit Mosselbaai aangery en voorsien kan word, sal dit die prys waarteen water gelewer word aansienlik verhoog."
Landbouers hier beleef uiters knellende omstandighede. Verskeie organisasies het reeds aan beide kommersiële en kleinboere droogtehulp verskaf. Geruime tyd reeds vloei die Gouritzrivier nie meer nie.
"Dit is kernbelangrik vir die voortbestaan van die waterbron dat inwoners van Herbertsdale en Buisplaas dringend sal water spaar," maan adv Giliomee.
Mosselbaai
In die Mosselbaai-area waar drinkwater hoofsaaklik vanuit die Wolwedans- en Klipheuweldamme voorsien word, is die dalende watervlakke kommerwekkend.
"Die bergingsvermoë van die drie grootste damme moet in berekening gebring word wanneer damvlakke vergelyk word. Die Ernest Robertson-dam hou maar 410 Ml. Hierdie dam se water voed veral die Brakke-area en vloei daarbenewens in die Wolwedansdam. 100% van 410 Ml is nie gerusstellend nie.
Die Klipheuweldam, geleë in 'n sytak van die Groot-Brakrivier is tans op 54.76%. 'n Jaar gelede was hierdie dam se vlak op 80.8%.
"Die Wolwedansdam is nou slegs 68.86% vol, vergeleke die 87.3% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar."
Die totale kapasiteit van al drie die damme is 29 490 Ml. Die Wolwedansdam, met 'n kapasiteit van 24 630 Ml verteenwoordig net meer as 82.5% van die totale waterbergingsvermoë van al drie die damme. Dalende watervlakke van die Wolwedansdam het daarom wesentlike implikasie vir die watervoorsieningsvermoë vir die area.
Watersekerheid
Mosselbaai beskik wel oor die grootste waterontsoutingsaanleg in Suid-Afrika. Dit is in 2010 teen 'n koste van R210 miljoen in gebruik geneem nadat die dorp in 2009/2010 'n ongekende droogte beleef het.
Hierdie aanleg is operasioneel en word goed in stand gehou, maar waterlewering vanuit hierdie bron is baie duur en behoort as 'n laaste opsie beskou te word.
Die watersuiweringswerke by Hartenbos kan, wanneer nodig vyf megaliter gesuiwerde water per dag hoofsaaklik vir gebruik deur PetroSA lewer.
Sowat twee-derdes van die verwagte vraag na water in Mosselbaai kan deur hergebruik van afvalwater en die ontsoutingsaanleg verskaf word. Hoewel die kapitaal-, bedryfs-, aanbod- en energiekoste van hierdie water wel hoog is, verseker dit tog watersekerheid en plaas dit Mosselbaai in 'n benydenswaardige posisie.
Gee gehoor
"Dit is in die beste belang van verbruikers om nóu reeds werklik te let op die munisipaliteit se versoek om water spaarsamig te gebruik. Wanneer damvlakke tot 50% of minder daal, sal striemende waterbeperkings en kostestygings in die prys waarteen drinkwater gelewer word, onafwendbaar wees," maan adv Giliomee.
Res van Wes-Kaap
Anders as in die Mosselbaai-omgewing, ervaar die res van die Wes-Kaap en veral die Skiereiland 'n merkbare styging in damvlakke. Tog, word berig, gaan veral Kapenaars voort met waterbesparingsmaatreëls, tekenend van duur lesse wat die onlangse waterskaarste meegebring het.
Die Karoo, daarenteen, ervaar 'n uitermate droogte. Onlangse stormreën het nie in damme se opvangsgebiede geval nie, hoewel die afloop wel die ondergrondse bronne mag voed.
Die Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell sê gemiddelde damvlakke in die provinsie staan op 43.59%, tennoor 22.25% 'n jaar gelede. Hy is bekommerd oor die algemene gebrekkige instandhouding van watervoorsieningsinfrastruktuur.
Gevaarligte
Cobus Meiring van die Suid-Kaapse Grondeienaarsinisiatief (SCLI) waarsku dat opvangsgebiede ernstig deur indringer plantegroei wat vars waterbronne vinnig dreineer, geraak word.
"Dit gaan op die medium en langtermyn 'n effek hê op die volhoubaarheid van watervoorsiening.
"Nuwe ontwikkelinge, soos die ontginning van gas langs die kus wat in Mosselbaai verwerk kan word, kan binne die afsienbare toekoms 'n groter las plaas op plaaslike waterbronne.
"Mosselbaai se bevolkingsgroei toon 'n volgehoue styging wat toenemend druk sal plaas op beskikbare waterbronne," meen Meiring.
Kenners waarsku ook teen die wisselvallige weersomstandighede. Die oorstromings in 2006/2007 is in 2009/2010 gevolg deur die ergste droogte in die geskiedenis van die Suid-Kaap, wat gevolg is deur 'n vloed in 2011. Tans flikker die waarskuwingsligte weer.
Damvlakke, in ag genome kapasiteit, daal sedert Maart 2018 ondanks die verloop van die tradisionele winterreënseisoen. As dié tendens voortduur is strenger waterbeperkings onafwendbaar.Grafiek: adv Thys Giliomee
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'