Update
TUINROETE NUUS - Die eienaar van 'n skrootwerf in George staar die moontlikheid van vervolging in die gesig nadat 'n gesteelde kerkklok ter waarde van R70 000 by die skrootwerf gevind is.
AA Scrap Metal was in besit van die 45 jaar oue brons kerkklok wat onlangs uit die kerktoring van die Verenigende Gereformeerde Kerk op Groot-Brakrivier gesteel is. Boonop het die skrootwerf die klok vir 'n skamele R476 gekoop.
Die polisie op Groot-Brakrivier het 'n ondersoek na die verdwyning van die klok van stapel gestuur nadat die kerk se leraar, ds Benjamin Roelfse die skok ontdekking gemaak het en dit by die polisie aangemeld het.
Polisiekommunikasiebeampte, sers Lauriane Botha sê sy het die skrootwerf meer as een keer besoek, maar is elke keer aangesê dat daar nie so 'n klok op die skrootwerf is nie. Volgens Botha het sy egter aangedring daarop dat die skrootwerf moet verseker dat daar geen so 'n klok in hulle besit is nie.
Dit was toe wat die klok wel uit goedere wat binne sewe dae aan die skrootwerf verkoop is, sy verskyning gemaak het.
Die eienaar van die skrootwerf, Alta Fourie ontken dat hulle nalatig was.
"Mense wat goedere vir ons bring moet ons voorsien van 'n bewys van hulle identiteitsdokumente. Ons vra tog nie vir almal wat hier aankom, waar hulle die goedere gesteel het nie?"
Fourie sê sy het haar volle samewerking vir die polisie gegee en beweer dit was sy wat hulle gekontak het om te laat weet dat die klok by die skrootwerf is.
"Ek het ook die persoon wat die klok aan ons verkoop het se nommer vir die polisie gegee."
Intussen soek die polisie nog na 'n verdagte wat tussen die ouderdom van 24 en 30 jaar is en wat hulle in die ondersoek behulpsaam kan wees.
Botha het bevestig dat die ondersoek nog voortduur en dat Fourie moontlik 'n aanklag van die besit van gesteelde goedere in die gesig staar.
Nog niemand is teen die ter perse gaan in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die klok is intussen weer aan ds Roelfse oorhandig.
Dominee Benjamin Roelfse ontvang die kerk se klok by sersant Lauriane Botha by die Groot-Brakrivier-polisiestasie nadat dit gevind is.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'