Video
MOSSELBAAI NUUS - Op 78 verdien Rudolph Clench steeds sy brood op 'n eervolle manier, al word hy soms as 'n "kansvatter" of "boemelaar" uitgekryt.
Na jarelange diens in die Spoorweë, verdien hy geen pensioen nie. Maar hy mor nie daaroor nie. Intussen, soos hy dit stel, het hy 'n talent gekry wat hy nie net om den brode inspan nie, maar hy beskou dit as 'n lafenis vir sy siel.
Clench reis, sy ouderdom ten spyt, jare reeds deur die land en is bekend vir sy skilderye van plaasopstalle en indrukwekkende ou wonings. Hy reken so rofweg dat hy al nagenoeg 6 000 van dié kunswerke geskep het.
"Ek reis deur die land en sien dit soos geen ander mens dit sien nie. So sien jy baie plase. En die rede waarom die boere so van my hou, is omdat ek hulle plase skilder. Dis uniek. Ek skilder nie net 'n stuk nie. Ek skilder sý plaas."
Clench het in vorige media-onderhoude verduidelik dat hy dikwels maar net gaan aanklop êrens wanneer hy 'n skildergeleentheid sien. Vandaar, die onsensitiewe verwysings na sy motiewe. En dan beweeg hy maar ewe beleefd aan.
Hy het in die 1950s leer skilder onder die Italiaanse skilder, Carlo Sjoda.
"Olieverf is die beste medium. Vra maar vir Van Gogh en Rembrandt," het hy vandeesweek waar hy skilder by 'n huis in Vintcentstraat, Mosselbaai aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Dit neem hom ongeveer drie ure om 'n werk te voltooi.
Kyk 'n video hieronder:
Wanneer hy reis, reis hy alleen en sy vrou bly tuis op Hartenbos.
"Dis te rof vir haar. Ek het al vasgeval in riviere, sand, modder, maar ek glo in my talent en ek druk deur."
Oornag is VW Jetta
Clench beken dat hy al by tye in sy getroue ou Volkswagen Jetta moes oornag.
"Dis my lot en ek aanvaar dit so." Want skilderye is sy passie en bowendien, is hy geseënd om elke dag 'n skildery te kan verkoop. "Ek is dankbaar."
Die eienaar van die huis in Vintcentstraat waar Clench vandeesweek geskilder het, verkies om anoniem te bly. Sy het toevallig van hom verneem en, aangegryp deur sy storie, het sy hom genooi om haar huis te kom skilder.
Rudolph Clench vandeesweek voor 'n huis in Vintcentstraat.Foto: Jannie du Plessis
"As ek nou 'n oupa kon aanneem, sou dit Rudolph wees. Hy is die liefste mens, met die helderste, mees besonderse sin vir humor."
Sy het wel haar kommer uitgespreek oor die toestand van sy voertuig.
"Dit is nie reg dat hy in so 'n ou voertuig die land vol ry nie. Dis gevaarlik en hy is oud. Ons is 'n omgee-gemeenskap. Dalk is daar iemand wat tog op hierdie manier vir Rudolph sou kon help."
Enigiemand wat dalk met Rudolph Clench in aanraking sou wou kom, kan e-pos stuur na cornelle@groupeditors.co.za
Dit neem ongeveer drie ure om 'n werk te voltooi.
Dit neem ongeveer drie ure om 'n werk te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'