Susan Nicolene Stuurman is Saterdag tydens 'n voorval van huishoudelike geweld etlike kere met 'n mes gesteek by 'n huis in Nofemelastraat, Sewende Laan (Asla Park).
'n Xhosa man (28) is op die toneel in verband met die voorval gearresteer en is tans in aanhouding.
Sy hofsaak is uitgestel vir borgaansoek.
Sers Jika, kommunikasie-beampte van die SAPS KwaNonqaba, bevestig dat Stuurman verlede week, op Woensdag, 3 April, 'n klag van huishoudelike geweld teen haar lewensmaat gelê het. Hy is gearresteer en was in aanhouding in die Da Gamaskop-polisieselle tot en met sy hofverskyning op Vrydag, 5 April, waarna hy vrygelaat is. Stuurman wou intussen die klag teen hom terugtrek, maar is ten strengste deur 'n SAPD-lid van KwaNonqaba afgeraai om dit te doen.
Volgens iemand op die toneel, het 'n stryery tussen die paartjie ontstaan toe hulle voormiddag saam met 'n groep mense gesit en kuier het. Kiano Arikaner, wat die paartjie geken het, het bevestig dat daar reeds 'n geruime tyd verhoudingsprobleme tussen die twee bestaan het en dat die man se erge jaloesie moontlik 'n bydraende faktor tot die onmin was.
Stuurman het as 'n huishulp gewerk en laat drie kinders agter, waarvan 'n seun (5) en 'n dogter (7) in haar sorg was ten tye die voorval. Volgens haar tante, Ida Blaauw, was 'Fifi', soos sy bekend gestaan het, 'n flukse en hardwerkende vrou wat haar kinders goed wou versorg.
Alhoewel Stuurman se moeder, Margaret, op Mosselbaai woon en nie vir kommentaar beskikbaar was nie, het familielede bevestig dat Fifi vanaf haar kleuterdae deur haar ouma op Middelburg in die Oos-Kaap grootgemaak is. Sy het dikwels gependel tussen Mosselbaai, Kaapstad en Middelburg agter werksgeleenthede aan. Geliefd onder haar familielede, het 'n tante van Fifi haar vandeesweek in Kaapstad verwag, nadat sy vir haar 'n vaste werk gevind het.
Misbruik rý gemeenskap
Niklaas Booisen, proporsionele raadslid vir Wyk 2 wat nie skroom om aktief betrokke te raak in die gemeenskap nie, staan die familie by, aangesien daar etlike implikasies bestaan as gevolg van Stuurman se dood.
"Dis haar ouma se wens dat sy in Middelburg, waar sy grootgeword het, begrawe moet word, maar weens finansiële tekortkominge is dit 'n reuse gesukkel om haar, onder omstandighede, 'n waardige begrafnis te gee," het Booisen aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Booisen het met leedwese verwys na die geweldige probleem wat drankmisbruik binne die gemeenskap, onder beide jonk en oud speel.
Gebiedsbevelvoerder van Da Gamaskop SAPD, Brig Gerhard Jantjies, en stasiebevelvoerder van KwaNonqaba, Lt Kol Johan Braaff, het die toneel waar Stuurman doodgesteek is, Maandagoggend besoek. Brig Jantjies het 'n beroep op omstanders en die inwoners van Nofemelastraat gedoen om die SAPD by te staan om die gemeenskap te beveilig.
"Ons doen 'n beroep op alle rolspelers om ons te help om veral alkoholinname beter te bestuur," het Jantjies aan die Advertiser gesê. Hy het hom skerp uitgespreek oor die geweldskultuur onder Suid-Afrikaners, veral met betrekking tot huishoudelike geweld.
"Mense betrokke in liefdesverhoudings moet berading oorweeg voordat hulle hul toevlug tot geweld neem, om só hul emosionele probleme op te los."
"Myns insiens neem gesinsgeweld hand oor hand toe," het pastoor Stephen Blaauw, 'n familielid ook verbonde aan die House of Joy and Victory-gemeente, gesê.
Blaauw was voorheen betrokke by die bedryf van 'n plek van veiligheid vir slagoffers van, onder meer, huishoudelike geweld. Enigiemand wat hulp wil verleen aan die Stuurman-familie kan met pastoor Blaauw by 079 378 9209 of Niklaas Booisen by 072 463 7186 kontak maak.
Nog te klein om eintlik te verstaan wat met hulle ma gebeur het, staan Carl (5) en Joslyn (7) voor die huis waar Susan (Fifi) Stuurman die naweek tydens 'n voorval van huishoudelike geweld doodgesteek is. Hulle toekoms is nog onseker. By hulle is hul groottante, Ida Blaauw. Foto: Cornelle Carstens
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS