Update
MOSSELBAAI NUUS - Dit blyk asof 'n 18-jarige jong vrou wat in Februarie vanjaar aan selfdood omgekom het, wel deur die skool waar sy voorheen 'n leerder was, vir berading verwys is.
Jamie-Lee Smith is op 21 Februarie deur haar ma in haar ouerhuis in Aslapark gevind. Sy is op die toneel deur nooddienste dood verklaar.
Jamie-Lee was voorheen 'n leerder aan Sao Bras Hoërskool. Sy is nie vanjaar terug skool toe nie en was voornemens om haar matriek te voltooi deur aandklasse te neem, aldus haar ma Val Jansen.
Dit blyk asof Jamie-Lee sedert haar laerskooldae 'n slagoffer van boeliery en teistering was, wat moontlik tot haar dood aanleiding gegee het ('Ek verstaan niks meer nie', Mossel Bay Advertiser, 2 Maart).
Die Wes-Kaap departement van onderwys het vandeesweek by monde van Millicent Merton van die department se kommuniksie-direktoraat bevestig dat "die leerder wel na die maatskaplike werker verwys is".
Sy het voorts gesê: "Die leerder was egter op die dag van die geskeduleerde sessie afwesig."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'