MOSSELBAAI NUUS - Om te gesels met 'n gesin oor die afsterwe van 'n geliefde is nooit maklik nie.
Wanneer ouers 'n kind verloor het, is dit nog erger. Des te meer as die oorsaak selfdood is.
Jamie-Lee Smith (18) se ma, Val Jansen het instinktief geweet toe sy verlede Woensdag, 21 Februarie na werk by hulle huis in Umtataweg, Aslapark aankom dat alles nie pluis is nie.
"Ek het geklop en geroep, soos altyd 'Jamie, Jamie dis mammie' dan kom maak sy vir my oop."
Toe sien sy die kombuis lyk nog net soos sy dit gelos het. Jamie het altyd die skottelgoedjies versorg.
Val het omgestap na haar en haar man, Ricardo se slaapkamer toe waar Jamie graag gelê het.
"Die venster was oop, maar die gordyne was toegetrek en toe ek dit so ooptrek...toe sien ek my kind..."
Sy sê sy weet nie waar sy die krag gekry het nie, maar sy het die slot afgeruk om binne die huis te kom.
"Ek is daar in en ek roep 'Jamie, Jamie' - ek het haar só en ek klim op die stoel en ek haal die tou af," beduie sy.
"Toe sit ek haar net neer op die grond. Toe kom daar nog wind uit en ek dink sy lewe nog."
Sy is na die buurvrou toe vir hulp.
"Sy het gevra of Jamie nog leef en ek sê toe 'ja, Jamie lewe nog'."
Met die nooddienste se aankoms, was daar egter niks wat hulle vir Jamie-Lee kon doen nie.
"Ek was seker doof of wat, ek het nie verstaan nie. Ek het vir die ambulansmense gesê 'Wat staan julle nog rond? Gaan kyk of my kind oraait is, julle moet daai goed op haar gaan sit'. Toe kom hulle agterna...en sê my."
Jamie is op die toneel dood verklaar.
Jarelank geteister
Jamie-Lee was voorheen 'n leerder aan Hoërskool Sao Bras. Sy het vanjaar, nadat sy haar graad 11-jaar nie deurgekom het nie, nie teruggekeer skool toe nie.
Sy was voornemens om te begin werk en aandklasse te loop.
Val vertel dat Jamie-Lee sedert haar laerskooljare reeds onder boeliery en teistering deur ander leerders deurgeloop het.
Soms het ander, meer volwasse lede van die gemeenskap hulle volgens Val ook aan hierdie laakbare gedrag skuldig gemaak.
"Ek het baie met haar gepraat en gesê dat sy haar nie so aan die mense moet steur nie. Jamie het baie gebid ook."
Val sê dat hulle werk gemaak het van die moeilikheid by die skool. "Soms was dit polisiesake, maar daar het nooit iets van gekom nie.
Ek het vorms by die skool geteken om toestemming vir berading te gee, maar dis nooit gedoen nie," sê Val. Sy voel die sisteem het haar dogter in die steek gelaat.
Jamie-Lee was voorheen 'n leerder aan Hoërskool Sao Bras.
Onbeantwoorde vrae
Jamie-Lee het aldus haar ouers nooit pertinent gesê dat sy nie meer wil lewe nie.
"Sy het, as daar weer sulke moeilikheid was, net gesê sy't nou nie meer lus vir hierdie lewe nie," sê Ricardo.
Jamie-Lee het in die briefie wat sy voor haar dood geskryf het glo gesê dat "sy nou genoeg gehad het van almal" en dat "sy nie kon wag om in die Vader se arms te wees nie".
Val sê sy kon die brief nie lees nie.
"Ek was te deurmekaar. My buurvrou het gelees. Ek het net gevat en gelos. Die brief is by die polisie."
Volgens Val maak niks meer vir haar sin nie. "Jamie was lief vir skryf en teken. Sy wou 'n fashion designer word.
"Sy't altyd sulke mooie goed oor die lewe geskryf." Val sê Jamie-Lee was gekant teen selfdood.
Haar 10-jarige boetie het hierdie week die skool vermy omdat "hy nie lus is vir die vrae wat gevra gaan word nie".
Die polisie wil glo hê dat Val nog haar dogter se foon moet nagaan. "Ek kan nie. Ek voel nog nie daarna nie.
"Ek wil my kind sonder 'n wrok in my hart begrawe. Ek sal later kyk." Val sê die mense praat nou eers en hulle sê allerhande goed.
"Ek sny dit af. Ek gaan dit nie meer hoor nie. Ek is trots op my kind en wie sy was."
* Die selfmoordtendens in Mosselbaai het in 2017 aanleiding gegee tot die ontstaan van 'n facebookblad, Anti-Suicide Mosselbay.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'