Die gemeenskapspatrollies, bestaande uit gemeenskapslede wat na ure saam met die SAPD patrollie ry, het hul erns om misdaad in hulle area hok te slaan egter 'n stap verder geneem.
Na etlike versoeke om meer effektiewe selfverdediging te kan toepas, het die instrukteurs van die Tiger Kai / TUFF Academy-gimnasium in Mosselbaai aangebied om die gewillige gemeenskapslede 'n bietjie touwys te maak. Die sogenaamde Krav Maga-kursus is kosteloos aangebied om die gemeenskapslede meer weerbaar te maak teen beide gewapende en ongewapende aanvallers.
Hiertydens het hulle geleer wat om te doen in situasies wanneer hulle uit noodweer moet optree ten einde hulself en ander lede van die gemeenskap te beveilig.
Volgens Marulin Goodger van die gimnasium, is die basiese beginsels van Krav Maga neutra-lisasie, gelyktydige defensiewe en offensiewe taktieke en aggressie.
"Al is Mosselbaai 'n relatief klein en veilige dorp, moet ons nooit te houtgerus wees nie," meen Philip Goodger van Tiger Kai.
Gemeenskapslede van die SAPD Da Gamaskop se Sektor 2 wat sedert Maart vanjaar die polisie bystaan met patrollies in hulle gebied, word touwys gemaak in selfverdidiging deur die instrukteurs van Tiger Kai / TUFF Academy-gimnasium. Hier is die groep saam tydens 'n onlangse oefensessie, aangebied deur Philip Goodger (voor, knielend). Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'