Leerders wat graag by die Seekadette wil aansluit word aangemoedig om, in skooluniform en vergesel deur hul ouers of voogde, hierdie opedag by te woon.
Die Mosselbaai Seekadette, verbonde aan die TS Outeniqua Opleidingskip, is 'n gedugte span wat hul deursettingsvermoë en dissipline te danke het, nie net aan paradewerk nie, maar ook aan pret in 'n marine omgewing.
Hoewel drilwerk, uniforms en oefening deel maak van hul gereelde byeenkomste, is dit die pret op die water waarna die meeste van die kadette juis uitsien. Aan hierdie verwagting word gereeld voldoen met uitstappies waartydens hulle self kans kry om op die water te vaar. Hierdie geleenthede word juis gebruik om talle vaardighede,onder meer oorlewingsvaardighede, aan die jong klomp oor te dra.
Die kadetprogram onderskryf navolgingswaardige waardes en norme en word deur die SA Vloot erken en ondersteun. Die program lei 'n kind tot 'n selfversekerde volwassene. Seekadette beklemtoon leierskap, selfbeheersing en hoe om moeilike situasies te hanteer. Die lesse wat geleer word, is nuttig, nie net in die dag-tot-dag-lewe nie, maar ook in 'n omgewing en binne 'n portuurgroep waarmee die jong kadette kan identifiseer en assosieer.
Die Suid-Afrikaanse Seekadette is 'n Artikel 21 Maatskappy wat die uitdaging van die nasio-nale regering met betrekking tot jeug-opleiding aangegryp het en ondersteun. In die meeste gevalle is die opleiding wat die jong kadette deurmaak SAQA geakkrediteer.
Vir meer inligting oor die Seekadette program, kontak Juwariah Syster by 083 463 9702 of Trevonia Scheepers by 073 007 0306.

'n Gesonde, fikse liggaam huisves 'n gesonde gees, en oefening, hoewel noodsaaklik, is ook pret binne portuurverband.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'