MOSSELBAAI NUUS - Helgaardt van den Bergh (6) 'n seun van Hartenbos wat diep in inwoners se harte gekruip het, is op Maandag, 25 Junie in sy slaap by die Carpe Diem-skool in George oorlede.
Helgaardt was die seun van die veroordeelde beskuldigde Tertius van den Bergh (28) wat in Desember 2014 in die Mosselbaai-streekhof gevonnis is tot effektief agt jaar gevangenisstraf nadat hy skuldig bevind is aan poging tot moord op Helgaardt.
Die hartseer verhaal het opslae gemaak nadat Van den Bergh daarvan beskuldig is dat hy Helgaardt as baba so erg in sy woning op Hartenbos aangerand het dat hy nooit weer normaal sou kon wees nie. Helgaardt was tydens die voorval 'n baba van slegs 'n paar weke oud.
Hy is in die Bethesda-jeugsentrum versorg waarna hy sedert 4 Augustus, 2016 in pleegsorg geplaas is.
Maatskaplike werkers en polisiebeamptes wat by Helgaardt se storie betrokke was het die afgelope week hulle hartseer en skok oor sy dood uitgespreek.
"Dit was vir ons baie sleg om te hoor, maar ons is dankbaar vir die laaste tyd in Helgaardt se lewe. Hy het wonderlike pleegouers gehad en het 'n goeie lewe gehad."
Volgens polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie word geen saak ondersoek nie. "Dit was 'n natuurlike dood."
William Leadbetter van Walking on Waves en 'n span vrywilligers het saam met Helgaardt in die branders by Diasstrand baljaar. Leadbetter het uitgereik na kinders met gestremdhede. Foto: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'