Update
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners word gemaan om liefs skulpvis te vermy in die areas waar rooigety in Mosselbaai opgemerk is.
'n Wetenskaplike van die departement van landbou, bosbou en vissery, Grant Pitcher sê hoewel rooigety nie in alle gevalle lewensgevaar inhou nie, dit aanbeveel word dat mense die eet van skulpvis in die gebied vermy.
Pitcher sê 'n rooigety word veroorsaak deur digte konsentrasies alge, bekend as fitoplankton in die see. Hy sê dat rooigety dikwels eers opklaar na die eerste paar winterstorms.
Volgens Pitcher is nie alle rooigety skadelik nie, maar dit kan in sommige gevalle skulpvis vir mense lewensgevaarlik maak.
Fitoplankton
Rooigety word veroorsaak deur digte konsentrasies alge, bekend as fitoplankton, in die see. In die algemeen word rooigety aan die Suid-Afrikaanse kus deur die fitoplankton bekend as dinoflagellaat veroorsaak.
Hierdie eensellige organismes kan in water klein entjies rondbeweeg met behulp van twee sweepagtige aanhangsels bekend as flagelle.
Tydens 'n rooigety kan die water bruin, oranje, pers, geel, olyfgroen en ook in skakerings hiervan, verkleur.
Die kleur hang af van die spesie fitoplankton, die kleurpigmente wat dit bevat, die grootte en konsentrasie daarvan, die tyd van die dag en ook die hoek waarteen die son op die water val.
Rooigety het egter niks met getywerking te make nie.
Rooigety word veroorsaak deur digte konsentrasies alge, bekend as fitoplankton, in die see.
Ontstaan
Rooigety kom meesal in die herfs langs die Weskus en die Tuinroete voor. Gedurende hierdie tydperk, veroorsaak suidewinde en die seestrome dat koue, voedingsoutryke water uit die diepsee na die oppervlakte kom. Hierdie water bevat dinoflagellate.
Hoë konsentrasies voedingsoute in die water saam met die juiste temperatuur, soutgehalte en lig laat die dinoflagellate vinnig vermeerder tot soms 20 miljoen per liter seewater.
'n Rooigety ontstaan wanneer hierdie massas dinoflagellate deur die seestrome en winde, asook hul swemvermoë in die boonste waterlae saamgespoel word tot 'n reusekonsentrasie wat gevolglik die seewater se kleur verander.
Gevolge
In die algemeen is rooigety onskadelik en lewer dit 'n nuttige bydrae tot die produksie van plankton, meeste seediere se stapelvoedsel. Soms hou rooigety helaas ernstige gevare in.
'n Te digte konsentrasie van die fitoplankton kan visse versmoor. Dit verstop hul kieue sodat hulle nie suurstof uit die water kan opneem nie.
Die massas bakterieë wat hierby betrokke is, gebruik so baie van die opgeloste suurstof in die water dat daar te min suurstof oorbly om groot hoeveelhede biomassa in stand te hou en gevolglik vrek dit.
Skulpvis soos mossels, perlemoen, oesters, gapermossels, garnale en krappe filtreer fitoplankton uit die seewater. Giftige fitoplankton kan op hierdie manier in die skulpvis opbou, vrektes veroorsaak en sklupvis op strande laat uitspoel. Voëls en rondloperdiere op die strande, selfs mense eet dié seekos en word siek. Dit kan sterftes tot gevolg hê.
Dit is teen hierdie tipe rooigety wat die publiek gereeld gewaarsku word.
Volgens Pitcher kan mense steeds in die see swem tydens rooigety. Hy sê dis slegs in uitsonderlike gevalle wat swem verbied sal word.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'