Berigte van sy rondloperdae is van Island View, Vierdelaan, die St Blaize-roete en verder ontvang.
Die vanghok is deur Natuurbewaring verskaf en die bobbejaan is ná vier dae met vrugte daarin gelok.
Die vangs is onmiddellik by die Mosselbaai DBV en Natuurbewaring aangemeld. Om die dier verdere stres te spaar, is die vanghok op advies met 'n kombers bedek totdat die DBV 'n beampte gestuur het om die dier in die vanghok te verwyder.
Inwoners van Island View het berig dat die bobbejaan vir etlike weke in die buurt opgemerk is waar hy veral van uintjies en ander plantmateriaal oorleef het. Sover bekend het hy nooit asdromme omgedop of in erwe na kos geaas nie.
Verlede week Donderdag is die kees egter ook in Vierdelaan opgemerk nadat hy oor Louis Fourieweg gehardloop het, en daar was ook berigte dat hy in JCC-kamp gesien is.
Gevaar
Op advies van Natuurbewaring se beamptes is Bobby egter Maandagaand deur 'n plaaslike veearts by die Mosselbaai DBV uitgesit.
Van die oorwegings wat tot hierdie besluit gelei het, was dat daar nie 'n bestaande rehabilitasiesentrum in die omgewing is wat hom sou kon inneem nie en dit is 'n volwasse mannetjiesbobbejaan wat waarskynlik deur sy trop verwerp is en daarom alleen gehou het.
Hy was ook oënskynlik mense gewoond en nie vir hulle bang nie, en daarom kon hy gevaarlik wees as hy vasgekeer of onverhoeds op 'n erf betrap sou word. Daar is reeds berigte ontvang dat die bobbejaan 'n huiskat in die eienaar se erf gejaag het.
Boonop is bobbejaanvleis gesog vir muti en daar is gevrees dat hy gejag sou word. Sou hy elders vrygelaat word, het die moontlikheid bestaan dat hy net weer tot 'n woonarea sou vorder en weer eens 'n gevaar vir onwoners kon word.
Ná die nuus oor die bobbejaan se vangs op die Mossel Bay Advertiser se Facebook-blad bekend geword het, het lesers oorwegend onthuts reageer op die feit dat hy uitgesit wou word.
Die versekering is egter gegee dat dit, alle risiko's in ag geneem, die beste besluit was.

'n Laaste foto van Bobby die rondloperkees.
Bobby die kees in sy rondloperdae in Island View. Foto: Johnny Claassen

Verskeie Island View inwoners het die petalje gade geslaan.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'