Update
MOSSELBAAI NUUS - Rommelstorting bly 'n probleem met inwoners wat veral bourommel en tuinvullis, maar ook ander afval onwettig in ongerepte areas in die Heiderand-omgewing stort. Dit is veral die area naas Curro Mosselbaai, by die Suid-Kaap Kollege, in Tolboslaan asook Sederlaan waar die grootste probleme voorkom.
Die munisipaliteit het onlangs groot, nuwe vullisverwyderingshouers in Heiderand aangebring wat juis bestem is om heelwat meer vullis te kan akkommodeer. Inwoners word aangemoedig om daarvan gebruik te maak. 'n Groensak-vullisverwyderingstelsel is ook sedert vandeesmaand ingestel om huisbewoners behulpsaam te wees om op ordelike wyse van tuinvullis ontslae te raak.
"Die munisipaliteit het kennisgewingsborde op strategiese areas aangebring om inwoners se aandag te vestig op die onwettige optrede om rommel op oop ruimtes te stort. Sedert die kennisgewings aangebring is, word 'n merkbare verskil opgelet in die onmiddellik naasliggende areas, maar daar is steeds 'n tendens om op afdraaipaadjies wat uit die openbare oog is veral bourommel te stort.
"Die inwoners word vriendelik gevra om gehoor te gee aan versoeke om nie rommel te strooi of te stort nie," aldus die munisipale woorder, mnr Colin Puren.
Sedert kennisgewingsborde aangebring is, word 'n merkbare verskil gemerk met minder rommel wat gestort word in die omgewing waar die kennisgewings mense op die probleem attent maak.
Lees 'n verwante berig: Vullisverwydering kry 'n hupstoot
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'