Video
MOSSEL BAY NEWS - Die plaaslike rockgroep, Van Konings se jongste musiekvideo, Blossoms Bloom, is vandeesweek vrygestel. Die groep se vorige twee musiekvideos, ook verfilm en geredigeer deur George Herald-joernalis, Wessel van Heerden, handel onderskeidelik oor 'n sprokiestroue en 'n jong man wat sy koers effe byster geraak het maar uiteindelik weer sy pad vind.
Soos voorheen berig, meen die Van Konings se sanger en liedjieskrywer, Leon van Rensburg dat hulle musiek ten doel het om die dieper dinge in die lewe aan te spreek.
So is dit ook die geval met hulle jongste aanbieding, wat handel oor depressie. Die lied is opgedra aan 'n vrou wat twee seuns aan selfdood verloor het.
"Ek het die gesin, oud-Mosselbaaiers, geken. Een van die seuns was 'n ruk saam met my op skool en die jongste boetie, het later vir my gewerk in seisoentyd toe ek nog surfskole gehou het. Ons het almal saam gesurf. Hulle was agtermekaarouens," vertel Leon.
Blossoms Bloom is geskryf nadat Leon die jongste broer se begrafnis bygewoon het, ongeveer 12 jaar gelede. Hy sê dat die ma se verdriet as gevolg van die verlies van haar seuns hom jarelank al bybly en dit is waarom die liedjie nou uiteindelik as musiekvideo die lig gesien het.
Na 'n groot soektog, het hy die seuns se ma opgespoor in die Oos-Kaap en haar vertel van Van Konings se musiekvideo-opname.
Leon meen die lied het ten doel om die stigma rondom depressie aan te spreek. "Mense moet besef dat hulle hul persepsies oor depressie en selfdood moet verander. Depressie is 'n siekte en mens moet behandeling daarvoor kry, ander kan dit jou doodmaak - soos met enige ander siektetoestand. Depressielyers moet hulp en behandeling kry."
Nog 'n belangrike aspek wat hy graag deur middel van die musiekvideo wil belig is die belangrikheid van 'n vriendekring.
"'n Mens weet nie altyd wat om te sê vir iemand wat depressief is nie, maar jy kan ook net dáár wees. So dikwels gebeur dit dat familie of vriende, wanneer iemand aan selfdood sterf sê 'As ons maar net gebel het', en dan is dit dikwels te laat."