"Dis die eerste keer dat Wêreld Loodgieterdag op Mosselbaai gevier word, en ons doen dit tot voordeel van die gemeenskap.
"Ons het besluit om na Denneprag uit te reik en tegelyk die leerders bewus te maak van die belangrikheid van die rol wat 'n loodgieter in behoorlike sanitasie speel," aldus Marius.
Skoon water is 'n reg wat as vanselfsprekend geneem word, maar sonder skoon, lopende water, kan talle wateroordraagbare siektes tot groot ellende lei.
"Mense aanvaar dat skoon water uit 'n kraan sal vloei. Tog word Wêreld Loodgieterdag jaarliks sedert 2010 op 11 Maart internasio-
naal onder aanvoering van die Wêreld Loodgietersraad gehou om die belangrike rol wat loodgieters met betrekking tot gesondheid en gerief vervul, te erken" sê Marius. Hy het bygevoeg: "Loodgieters wat lede van IOpSA is, is nie kompetisie vir mekaar nie, maar kollegas, want saam hou ons die standaarde hoog en bevorder ons die gesondheid van die Suid-Afrikaners".
Suid-Kaapse loodgieters van sover as Stilbaai het nuwe wastrôe in elke klaskamer aangebring en die skool se ablusiegeriewe is onder hande geneem. Waar nodig, is nuwe spoelbakke, nuwe sitplekke en spoelmeganismes geïnstalleer.
"Veral aangesien die skool kos aan die leerders bedien, is dit van uiterse belang dat higiëne voorop gestel word en dat almal kan hande was", beaam Marius.
Die waarde van net die materiaal was sowat R3 000 en die gratis arbeid bykans R5 000.
Mnr Van Wyk het egter IOPSA nie net tot die installering, diens en opgradering van geriewe beperk nie. Hy het self ingespring en die leerders meer oor die loodgietersberoep en die waarde van skoon water en sanitasie geleer.
'n Inkleurkompetisie is onder IOPSA se leiding gehou om die loodgietersberoep toe te lig. Die gelukkige wenner is gepas beloon.
Denneprag skoolhoof, mev Leatitia October, het mev Marie de Klerk, voorsitter van die ACVV Dienssentrum op Danabaai, van harte bedank vir haar puik fasilitering wat vir die sukses van die dag verantwoordelik was.
"Was dit nie vir die ACVV Pretdraf waaraan ons leerders deelgeneem het nie, het die verhouding met Marie nooit ontwikkel nie. Marie het egter ons almal baie betrokke gemaak met haar entoesiasme en puik organisasievermoë. Toe die voertuie vanoggend hier voor die skool stilhou, was die leerders baie opgewonde en, na vandag, sal talle leerders waarskynlik 'n loodgieter wil word as hulle eendag groot is," aldus mev October.
Mev De Klerk het haar dank uitgespreek teenoor die bestuur van die ACVV Danabaai, die Garden Route Casino Community Trust, ver-al mnr Robin Seabrook, vir die ruim skenking, asook Michelle van Rensburg, vir haar bydrae. Die ACVV het die broodjies geskenk.
Die dag is afgesluit met 'n braai en broodjies en gesellige saamkuier.
"Die taak om twee pype aan mekaar te koppel kan binne minute aan 'n kleuter verduidelik word, maar die regulasies rondom die werking van die stelsels wat aan hierdie pype gekoppel word, verg 'n vakleerlingskap van vyf jaar, gevolg deur 'n ambagstoets. Iemand wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie en wat lood-gieterwerk uitvoer is dus besig om die mense se gesondheid in gedrang te plaas sou die korrekte prosedures en regulasie nie gevolg word nie", aldus Marius.
* Sien ook die brieweblad vir 'n bedankingsbrief aan die talle borge en deelnemende loodgieters.

Vroegoggend op Dinsdag, 11 Maart, Wêreld Loodgietersdag, het verteenwoordigers van talle plaaslike loodgietersfirmas by Denneprag Primêre Skool opgedaag om die ablusiegeriewe op te gradeer en 'n wastrog in elke klaskamer te installeer. Naasregs is mnr Marius van Wyk, streekvoorsitter van IOPSA, en mev Marie de Klerk, voorsitter van die ACVV Danabaai Dienssentrum wat die uitreikaksie gefasiliteer het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'