MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het vandeesweek die uitgetrede hoof van die Da Gamaskop-polisiegebied, brig Gerhard Jantjies en sy vrou, Carol sterkte toegewens met die nuwe uitdagings wat 'n lewe ná die SA Polisiediens vir hulle inhou.
"Bly betrokke, maar moet nou nie die aksie gaan soek nie," was die burgemeester se goeie raad aan Brig Jantjies wat onlangs na 'n luisterryke loopbaan uit die SA Polisie se diens getree het.
"Daar is min dorpe waar so 'n goeie verhouding tussen die munisipaliteit en die polisie heers, grootliks te danke aan die goeie samewerking wat met u kantoor. In Mosselbaai heers daar 'n saamwerkgees wat u gekoester en uitgedra het," het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee gesê.
Die afgetrede brigadier en sy vrou is bedank vir hul rol in die samelewing en vir die ondersteuning wat buurtwagte en ander organisasies deur die jare van hulle ontvang het.
"Respekteer die aftrede, geniet nou die familielewe. As aktiewe lid was daar baie maal nie tyd vir die gesin nie, nou is dit julle tyd," het die burgemeester gesê.
"Gister se suksesse is in die verlede, kyk nou vorentoe en belê in nuwe suksesse."
Brig Jantjies het op sy beurt die burgemeester, munisipale bestuurder en raadslede bedank vir die oopdeurbeleid wat gehandhaaf word.
"Mosselbaai is gelukkig om 'n bestuur te hê wat oplossings soek ondanks politieke verskille. Dankie ook aan die munisipale bestuurder wat goeie besluite ondersteun, buite die geykte raamwerke na oplossings soek en wat mos nie kan stilsit as daar werk is wat gedoen moet word nie," het Brig Jantjies afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'