MOSSELBAAI NUUS - 'n Sekuriteitsbeampte (35) aan diens by die ou Sportskool in Marshstraat is onlangs tydens 'n klopjag deur Mosselbaai-polisiebeamptes in hegtenis geneem nadat dwelms in sy besit gevind is.
Die gebou, wat vroeër as 'n koshuis gebruik is, staan reeds etlike jare leeg en word deur gesagsfigure as 'n "nes" beskryf.
Die perseel behoort tans aan die departement van openbare werke en 'n sekuriteitsmaatskappy is deur die departement aangestel om die terrein te beveilig.
Hoewel die gras van tyd-tot-tyd gesny word, was daar etlike klagtes oor die verwaarlosing van die terrein in Mosselbaai se sakekern.
Volgens die woordvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer is nog twee verdagtes tydens dieselfde klopjag op die perseel in hegtenis geneem.
"Die sekuriteitsbeampte en nog twee mans het mandrax in hulle besit gehad."
Die verdagtes het intussen in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die voorsitter van die Onderdorp-buurtwag, Martie Loubser sê hulle kry gereeld klagtes van inwoners in Uppercross-straat, die straat aan die bokant van die terrein, oor 'n geraas by die gebou in die vroeë oggendure.
"Daar is ook al op die terrein vuur gemaak."
Loubser sê die buurtwag ondervind probleme met veral haweloses wat op die terrein toesak. "Die plek is 'n seer oog en 'n lokaas vir misdadigers."
Volgens Loubser sal die buurtwag en die middedorp-wagte beslis meer sigbaar in die omgewing van die terrein moet wees.
"Ons is besig om te kyk na 'n oplossing vir die probleem."
Die eienaar van die sekuriteitsmaatskappy, Eddie Cloete sê die betrokke sekuriteits-beampte is tydelik geskors.
"Ons is besig met 'n interne ondersoek na aanleiding van die voorval."
Volgens ao Koekemoer is dit kommerwekkend dat die einste sekuriteitsmaatskappy wat die perseel moet oppas, se eie wag met dwelms betrap is.
"Ons hou van 'n misdaadvrye area en die ou Sportskool is 'n broeiplek vir misdaad."
Volgens ingeligte bronne is die oogmerk om al die provinsiale staatsdepartemente in die gebou te akkommodeer.
Die opgradering van die gebou sal egter eers teen Januarie 2019 begin.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'