Mev Rosina Ruiters is die oortuigende oorwinnaar in die driehoekige stryd tussen die Demokratiese Alliansie (DA), die African National Congress (ANC) en Icosa.
Die DA het 50.7% van die stemme op hulle verenig, terwyl Icosa 32.34% en die ANC 17.60% van die stemme kon wen.
Die polisiewoordvoerder Kapt Wollie Fourie berig dat veiligheidsmagte deur die loop van die dag die kieslokale gemonitor het en dat geen noemenswaardige voorvalle aangemeld is nie.
Die DA het senior partylede ingespan om hul kandidaat te ondersteun en die Eden Distriksmunisipaliteit se burgemeester, mnr Wessie van der Westhuizen, het by die Binnenshuise Sportsentrum aan die Mossel Bay Advertiser gesê dis bemoedigend dat kiesers hulle nie deur die diensleweringsbetogings laat intimideer nie.
Die verrassing van die dag was die groei wat Icosa in die wyk beleef het, vergeleke die steun in die algemene verkiesing in Mei vanjaar. Toe het die wyk 316 Icosa kiesers gehad, teenoor die 476 in die tussenverkiesing.
Mnr Dawid Kamfer, die mediawoordvoerder van Icosa, het die kiesers vir hul steun en vertroue bedank en het bygevoeg dat die party sal aanhou veg om die belange van hul lede voorop te stel.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Bo: Raadslid Niklaas Booisen (middle), mnr Okkie Terblanche en die Eden Distriksmunisipaliteit se burgemeester,
mnr Wessie van der Westhuizen, het kiesers vroegoggend by die DA se ondersteunertafel bygestaan.
Foto's: Mariska Visagie

ANC ondersteuners het luidkeels hul steun aan hul kandidaat verkondig.

Mnr Dawid Kamfer, mediawoordvoerder en 'n plaaslike leier van Icosa, het in 'n ligte luim saam met
party-ondersteuners die wind trotseer.

Nadine Tobias merk 'n kieser, mnr Willem Toll, se duim terwyl die
OEV se voorsittende beampte, mev Minnie Lucas, en die
adjunk- voorsittende beampte, Janap Isaacs, toekyk.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'