Volgens kapt Bernadine Steyn, SAPD Kommunikasiebeampte vir die Suid-Kaap, het vier onbekende mans die huis binnegekom terwyl die egpaar en hul twee seuns geslaap het. Dit is nie duidelik hoe die mans toegang tot die huis verkry het nie. Hulle was gewapen met, onder andere, handwapens en 'n mes.
Hulle het die egpaar se 11-jarige seun wakker gemaak en na sy ouers se kamer geneem. Hul sewejarige seun het voortgeslaap.
Die mans het die egpaar beveel om hul waardevolle artikels te oorhandig, waarna die inhoud van 'n kluis in die slaapkamer onverwyld oorhandig is.
Die mans was egter nie met hierdie buit tevrede nie, en het mev Strauss beveel om hulle na die egpaar se instapkluis op die grondvloer te neem. Twee van die mans het mev Strauss vergesel, terwyl mnr Strauss in die hoofslaapkamer aangehou is. Mnr Strauss is daar een skoot aan die kop toegedien en het op die toneel beswyk.
Met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die toneel omstreeks 07:00, het die SA Polisie die toneel reeds afgesper en het die forensiese ondersoek reeds 'n aanvang geneem. Polisiebeamptes in gepaste oorpakke het die omgewing gefynkam, terwyl die Langeberg K9 eenheid se polisiehonde ook ingespan is. Kaptein Christo Serfontein het aan die Advertiser bevestig dat lugfoto's ook met die SA Polisie se helikopter geneem sou word.
Die verdagtes het vermoedelik te voet ontvlug met die egpaar se drie vuurwapens, 'n .270 jaggeweer, 'n .22 wapen en 'n 9mm pistool. Juwele en selfone is ook gebuit.
Die Strauss egpaar se direkte bure, die gesin Strydom, is van Pretoria en was nie ten tye van die voorval tuis nie. Gesinsvriende het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die Strauss gesin juis op die Moquini landgoed besluit het toe hulle Mosselbaai toe verhuis het, omdat hulle passievol oor die natuur is.
Mnr Strauss besit 'n plaas in die Sweizer-Reneke distrik en hy is beskryf as 'n absolute natuurliefhebber. "Die plaas was sy lewe. Hulle het hul droomhuis kom bou en was baie gelukkig hier."
Mnr Strauss is beskryf as 'n ware gesinsman wat alles vir sy gesin gegee het. "Hy het 'n regspraktyk van die huis af bedryf en sy vrou, 'n rekenmeester, het hom daarmee gehelp. Hulle was deurentyd in mekaar se teenwoordigheid. Hy was 'n baie betrokke pa wat gereeld gesorg het dat hy saam met sy vrou hul kinders smiddae by die skool kan gaan haal. Hy was 'n sagte mens wat die Here bo alles gedien het. Hy het gelewe vir sy seuns en sy vrou," het 'n vriendin vertel.
Na die voorval is mev Strauss deur familie op die dorp bygestaan en sy woon tydelik by haar skoonma op Danabaai.
Danabaaiers het met skok op die voorval reageer omdat die landgoed as 'n besonder beveiligde gebied beskou word. Die voorsitter van die Danabaai Bewarea Inwonersvereniging, mev Marie de Klerk, het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om meer bedag te wees op hul eie veiligheid en om betrokke te raak by inisiatiewe wat misdaad daadwerklik aanspreek. Sy het ook die SA Polisie vir hul blitsige optrede bedank en haar waardering uitgespreek vir die onbaatsugtige diens wat hulle lewer.
Op Donderdag-oggend het die Da Gamaskop Gebiedsbevelvoerder, Brig Jantjies en die stasiebevelvoerder van KwaNonqaba, Lt Kol Braaff die toneel besoek en is hulle breedvoerig oor die voorval ingelig. Brig Jantjies het weer 'n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om ag te slaan op die gereelde wenke wat die SA Polisie se kommunikasiebeamptes via die Mossel Bay Advertiser deurgee, en om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid voorop te stel.
"Wees meer bedag op wat om jou aangaan, maak seker jou woning en eiendom is behoorlik beveilig en gebruik daardie veiligheidsmaatreëls konsekwent. Raak betrokke by gemeenskapstrukture wat tot stand gebring is om misdaad te beveg. Maak dit eenvoudig onmoontlik vir misdadigers om hier aktief te wees" het hy gemaan.
Die ondersoekbeampte, Speurder Ao Errol Barnard, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat van die eiendom wat gebuit is, sedertdien teruggevind is.
Die KwaNonqaba Speurdiens ondersoek 'n saak van huisbraak en moord. Enigiemand met enige inligting wat kan kan help om die moord op te los word, versoek om Speurder Ao Errol Barnard by 082 469 7506 of 044 606 5609 te kontak.

Die Moquini Coastal Estate is 'n veiligheidskompleks wat bekend is vir streng veiligheidsmaatreëls. By hierdie huis neffens die Blinderivier, is mnr Waldemar Strauss omstreeks 03:00 op Woensdag, 6 Maart vermoor. Foto: Nickey le Roux

Lede van die Langeberg K9 Eenheid het hul gespesialiseerde snuffelhonde ingespan om na leidrade te soek. Dit word vermoed dat die moordenaars per voet ontvlug het. Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS