Hy is vermoedelik Vrydagnag, 1 Augustus vermoor. Die slagoffer se keel is van die een kant na die ander met 'n mes oopgekloof. Daar was ook snymerke aan sy arm.
Hy is in sy woonstel, by die Heiderand woonstelblokke in Mosselbaai ontdek, waar polisiebeamptes hom in sy bloeddeurdrenkte kamer gekry het.
'n 30-jarige verdagte, Quintin Seyffert, is kort na die moord deur die Mosselbaai Speurdiens gearresteer.
Die verdagte het intussen voor Landdros Retha Pretorius in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op aanklag van moord. Hy verskyn weer op Maandag, 11 Augustus in die Hof vir 'n borgaansoek.
Volgens die Suid-Kaap Polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie, staar die verdagte ander moontlike aanklagte in die gesig. Die slagoffer se motorfiets is kort na die moord deur polisiebeamptes in die sloep by die Punt ontdek. Die vermoede bestaan dat die verdagte die motor-fiets in die see gegooi het nadat hy die moord gepleeg het.
Bekker het by 'n plaaslike motorhandelaar in Voorbaai gewerk. Sy suster, mev Margie Niemand (64), wat ook in Mosselbaai woon, sê haar jongste broer was 'n saggeaarde mens.
"Hy sou niemand ooit skade aandoen nie en het altyd gehelp waar hy kon."
Volgens mev Niemand het hy nog 'n suster en 'n dogter wat in ander dorpe woon.
"Hy het lank terug geskei en nooit weer getrou nie. Niemand verdien om op so 'n manier te sterf nie," het 'n hartseer mev Niemand aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Volgens bronne het die verdagte op 'n stadium by die slagoffer gebly terwyl hy werk in Mosselbaai gesoek het.
Die verdagte het glo geld van die slagoffer geëis en die moontlikheid word ondersoek dat dit 'n motief vir die moord was.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, Ao Jackie Grundlingh, kontak by 084 467 9019.
Die ondersoekbeampte in die saak, Ao Jackie Grundlingh, en die Speurhoof van die Mosselbaai SAPD, Kapt Tekkie van Rensburg, voor die slagoffer se woonstel.

Daniel (Danie) Bekker
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'