Die CID het daarin geslaag om op eie koste 'n inligtingsbord aan te bring op die hoek van Louis Fourie en Marshstraat naby die Sparkompleks, om toeriste en besoekers die pad aan te wys na die sakekern. Die inligtingsbord behoort meer besoekers aan die sakekern mee te bring, waarby besighede kan baat. Daar is voorstelle vir verdere inligtingsborde, wat tans deur op versoek van die munisipaliteit deur die CID oorweeg word.
Die direkteure het toegestem tot vier inligtingsborde wat by die toegange na die sakekern opgerig sal word. Die CID sal voorts navorsing doen na bestaande inligtings- en kennisgewingsborde en aanbevelings daaroor aan die munisipaliteit doen.
Mosselbaaiers sal ook eersdaags 'n verskil opmerk wanneer planthouers gepas geplaas sal word om die sakekern te verfraai. Besigheidslui sal genader word om vir die instandhouding van die plante in hierdie planthouers verantwoordelikheid te neem, sodat verseker kan word dat die plante goed versorg en 'n lus vir die oog sal wees.
Benewens die ses dekoratiewe planthouers wat die munisipaliteit geskenk het, sal die CID uit eie koste nog drie aankoop om op strategiese posisies te plaas om die dorp te versier.
Die CID bestuur het ook tydens hul onlangse bestuursvergadering die munisipaliteit bedank vir die goeie samewerking en veral vir die verwydering van die voertuigwrakke van die ou Sportskool terrein. Daar is ook besluit dat mnre André Nel en Francois van Zyl die CID op die munisipaliteit se stedelike vernuwing forum sal verteenwoordig.
Die sukses van die CID Diensbeamptes in die sakekern is tasbaar en lok verskeie komplimente van die publiek. Eersdaags sal hierdie beamptes met nuwe uniforms, wat tans ontwerp word, kan spog en maklik deur die publiek uitgeken kan word.
Die CID bestuur doen weer 'n beroep op eienaars in die spesiale aanslag gebied om lede van die CID te word.
Belangstellendes word genooi om met Ohna Russouw by 083 331 9333 of mosselbay.cid@gmail.com te kontak.

Die CID diensbeamptes spog met nuwe uniforms waaraan hulle maklik uitgeken kan word. Die hemde is deur Van's Electrical geborg en die baadjies deur die "Department of Community Safety" – dit lees "Neighbourhood Watch" agterop. Hulle is trots en reg vir die koue dae van die winter wat voorlê.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'