MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se skaatsplankryers kry die wind van voor, maar hou die wiele aan die rol.
By navraag oor die wettigheid van skaatsplankry op Mosselbaai se paaie en in openbare areas, het Elize Nel, direkteur van gemeenskapsdienste by die Mosselbaai-munisipaliteit gesê, "dit is onwettig om met 'n skaatsplank op 'n openbare pad of sypaadjie te skaats. Waar die skaatplankryers in plekke soos die Punt ry, is hulle 'n gevaar vir hulself en ander padgebruikers en tree ons beslis op. Dit is nie moontlik om orals te patrolleer nie, maar vir ons is hulle veiligheid baie belangrik.
"Die skaatsplankryer is beslis die verloorder as daar 'n botsing met 'n voertuig sou wees."
Klagtes dat skaatsplankryers onaanvaarbare gedrag teenoor motoriste toon is deur die Mossel Bay Advertiser ontvang.
By navraag aan skaatsplankryers is hul ongelukkigheid uitgespreek oor die gebrek aan nodige fasiliteite om hul sport te beoefen. By hulle bestaan dieselfde kommer as by die munisipaliteit dat hul veiligheid in gedrang is. Hulle veg egter vir hul reg op 'n geskikte perseel om die wiele te laat rol.
Pleit vir 'n oplossing
By monde van Michael Sheppard, beskeie kampvegter vir die voortbestaan van veilige en wettige skaatsplankry, asook die eienaar van Waves Surf Shop, respekteer hy die munisipaliteit se wetstoepassing, maar hy pleit vir 'n oplossing.
Sheppard het op eie koste die munisipale wetstoepassers se werk makliker gemaak deur 'n kranige binnenshuise skaatsplankrygerief by sy besigheid op te rig. Hy beskryf dit as die beste wat hy op die oomblik kan doen, maar "ver te min van wat nodig is".
Volgens Nel het sy ongeveer 18 maande gelede ernstig navorsing gedoen en kers opgesteek by plekke wat skaatsbane het. "Dit is meestal privaat en word nie deur die munisipaliteit gebou of bedryf nie. Een van ons raadslede wou 'n skaatbaan in sy wyk gebou het en 'n baie basiese, klein skaatsbaan sou omtrent 'n jaar gelede in die omgewing van R1 miljoen gekos het.
Dit sluit natuurlik die bedryf daarvan en onderhoud uit. In die konteks van ons begroting en behoeftes aan sportvelde vir so baie ander sporte is dit regtig baie moeilik," verduidelik Nel.
"Ons begin nou om hier en daar op regtig klein skaal by sekere speelparke 'n basiese sementblad te doen en dan so met die tyd stuk-stuk 'n trappie of ramp of wat hulle ookal gebruik, by te voeg, maar dis 'n lang proses," het Nel aangevoer as bewys dat die munisipaliteit nié deur wetstoepassing, skaatsplankryers van hul sport wil ontneem nie, maar help om 'n oplossing te soek.
Neem dié sport ernstig op
Luke Goliath, 'n gesoute skaatsplankryer wat van Waves Surf Shop se binnenshuisebaan gebruik maak, vertel daar is meer as 80 skaatsplankryers in Mosselbaai wat dié sport ernstig opneem en wil beoefen. "Daar is geen plek vir ons om dit wettig op 'n ernstige professionele wyse te doen nie. As ons in die dorp of woongebiede ry, lê die verkeersdienste beslag op ons skaatsplanke."
Goliath sê hulle droom daarvan om aan kompetisies deel te neem. "Intussen hou ons ons eie kompetisies op klein skaal by Waves. Nie alle skaatsplanke kan deelneem nie, aangesien die baan nie geskik is daarvoor nie."
Intussen glip die sportmanne op wieletjies steeds tussen motors in Mosselbaai deur. Gemoedere loop hoog aan beide kante, maar dié wat 'n oplossing soek vra wedersydse respek en geduld, wat 'n oplossing net kan bespoedig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'