MOSSELBAAI NUUS - Hoewel daar reeds in 2016 sprake was dat Louis Fourieweg, een van die besigste roetes in Mosselbaai, opgegradeer sou word, sê die departement van vervoer en openbare werke dié opgradering, is steeds in die beplanningsfase.
Hoof van kommunikasie, Jandré Bakker sê die implementering van die projek sal afhang van die beskikbaarheid van fondse. "Ons sal eers weet in watter finansiële jaar die projek van stapel gestuur kan word sodra die begrotings afgehandel is."
Die departement het voorgestel dat navrae oor die kwessie weer in April gerig word.
Die Mosselbaai munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê Louis Fourieweg, oftewel die R328 wat deur Mosselbaai loop is 'n provinsiale pad waaroor Mosselbaai-munisipaliteit nie jurisdiksie het nie. Die pad is die verantwoordelikheid van die Wes-Kaapse provinsiale pegering.
"Mosselbaai-munisipaliteit is wel in gesprek met die provinsiale regering oor opgraderingsvoorstelle vir Louis Fourieweg. Na verwagting sal provinsie binnekort met die nodige voorsieningsketting bestuursprosesse begin."
Verskeie inwoners het reeds hul frustrasie met die verkeersvloei wat op Louis Fourieweg toeneem uitgespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'