MOSSELBAAI NUUS - 'n Geliefde inwoner van Vleesbaai, oom Piet (Mpitipiti) Yawa is op 9 Apil in die ouderdom van 86 oorlede.
Hy het tot met sy dood op die grond van wyle Gallie Meyer gewerk en gebly.
Oom Piet se ouers, Tom en Lizzie, was Xhosas van die Oos-Kaap. Hulle kom vestig hul ongeveer in 1938 met 'n jong Piet, in die omgewing van Vleesbaai. Die Yawa-gesin gaan bly in 1942 op die Vleesbaai-grond van Gallie waar Piet se pa ook werksaam was. Piet se naam verskyn reeds vanaf 1949 in Gallie se loonboek. Hy was toe 12 jaar oud.
Gallie se kleinseun Anton Muller was toe ses jaar oud en onthou die vrolike, glimlaggende jong man. "Hy het ‘n besondere slag met kinders gehad. Die band tussen ons twee het blywend gebly deur al die jare," vertel Anton.
"Oom Piet was ‘n nederige, opregte, eerbare en vriendelike man. Toegewyd in sy werk, stiptelik en altyd bereid om te help. Hy het ‘n pragtige humorsin gehad. Ook ‘n kenmerkende lag as hy iets geniet het. Hy het nooit kwaad geword nie en ook nie ‘n lelike woord gesê nie. ‘n Pragtige voorbeeld vir klein en groot.
"Hy was ‘n deeglike werker. Niemand op Vleesbaai kon ‘n ruit so skoonmaak soos hy nie. Hy het ook vloere, huise en tuine kraaknetjies agtergelaat. Ons sal oom Piet baie mis en nooit ooit vergeet nie."
Tydens 'n onlangse gedenkdiens, wat verlede week op Vleesbaai vir oom Piet gehou is, het Anton Johannes 1 vers 47 uit die Bybel aangehaal waar Nataniel deur Fillipus versoek is om tog saam met hom na Jesus te gaan. Jesus het gesê: "Hier is 'n man in wie daar geen bedrog is nie."
Anton sluit dan ook af met: "Oom Piet was 'n man sonder bedrog."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’