Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die "Abandoned Babies" ooievaarspartytJie, wat die afgelope naweek by die Mosselbaai lughawe aangebied is, was volgens die organiseerders 'n baie groot sukses en sommer baie pret.
"Wat 'n ongelooflike oggend vir 'n ongelooflike doel," sê Anthony van Tonder, organiseerder van dié partytjie, gesê. Dit was vanjaar die tweede keer dat dié projek gehou is.
FOTOGALERY: "Abandoned Babies" ooievaarspartytJie
Die toenemende groei in getalle van verlate en verwaarloosde babas in die Tuinroete-omgewing, het die Moth Motorfiets Assosiasie (MMA) die projek van stapel gestuur.
Dit is nou 'n jaarlikse instelling en fondse asook baba produkte en ander items word ingesamel om aan organisasies te skenk, wat met kwesbare kinders werk. Op Sondag, 17 September, was lede van die MMA beïndruk en stomgeslaan met die Tuinroete-gemeenskap se geesdrif en goedhartigheid.
Dreigende weer het die byeenkoms byna gekelder, maar te danke aan die motorfietsklubs van die SWD was die massarit van die Langeberg winkelsentrum na die Mosselbaai vliegveld goed ondersteun.
"Die skenkings van baba benodigdhede gaan beslis help om 'n verskil te maak aan die lewens van ons verwerpte babas," sê van Tonder.
Die name is te veel om te noem, maar dankie aan raadslid Anton Dellemijn en sy vrou, Annamarie, raadslede Annie Janse van Rensburg en Ayden Parrot, wat namens die Mosselbaai Burgermeesterskantoor die fees kom geniet het.
Met skenkings vir pryse van helikopterritte, wildsritte, wyn hampers, restaurant eetbewyse, brandstof koopbewyse en vele meer, was hierdie oggend nie sonder opwinding nie. Daar was stalletjies, lekker boereworsrolle, lekker musiek, wonderlike geselskap en fantastiese pryse!
Van die grootste skenkings het uit die Suid-Westlike Distrikte se motorfietsklubs gekom. Van Tonder het almal wat betrokke was by die bewusmaking en skenkings, hartlik bedank.
Die ooievaarstema het baie vermaak veroorsaak en MMA-lede sien vreeslik uit na volgende jaar se geleentheid.
Vir enige verdere navrae of skenkings kontak Anthony van Tonder by 082 467 3365.
Pret was dit beslis. Lorna Meyer het spesiaal van Port Elizabeth gekom om die saak te ondersteun en spog hier met haar baba uitrusting.
Baba Anthony van Tonder word hier vasgehou deur Joeline van Dyk van die Undisputed motorfietsklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’